Skip to content
Menu

Die mens se grootste probleem is nie bloot sy omstandighede nie, maar sy sonde voor ’n heilige en regverdige God. Heidelbergse Kategismus Sondag 5 bring ons by hierdie ernstige werklikheid: God se geregtigheid eis dat sonde gestraf moet word. Die mens kan nie onderhandel, verskonings maak of self vir sy sonde betaal nie. Aan God se volmaakte geregtigheid moet voldoen word.

Wanneer die mens besef dat hy onder

God se regverdige oordeel staan, ontstaan die dringende vraag: Wie kan ons verlos? Die mens self kan nie. Selfs sy beste dade is met sonde bevlek en maak sy skuld net groter. Geen ander skepsel – mens of engel – kan die straf dra nie, want die mens het gesondig en God se straf is te groot vir enige skepsel om te dra. Hier staan die mens vasgedruk sonder uitkomkans.

Juis in hierdie nood bring die evangelie sy helder lig. Die engel se woorde aan Josef verkondig die vervulling van God se belofte: “Jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Die Naam Jesus beteken: Die Here red. In Hom voorsien God self die Verlosser wat volkome kan betaal vir die sonde.

Die maagdelike geboorte bevestig dat Jesus ware God en ware mens is. As ware mens kan Hy in ons plek staan en die straf dra. As ware God kan Hy die volle las van God se toorn dra en die skuld volkome betaal. Hy is die enigste Middelaar wat God en mens weer versoen. Ware verlossing beteken dat ons nie net van sonde bevry word nie, maar tot gemeenskap met God herstel word. Daarom rus ons hoop nie op onsself nie, maar alleen op Christus. In Hom het God sy volk volkome van hul sondes verlos