Met die saligsprekinge omvorm Jesus Christus ons karakter sodat ons hoe langer, hoe meer sy beeld sal vertoon. Aan die saliges behoort die koninkryk van God – dit is die goue draad wat regdeur die Bergrede (Matteus 5-7; Lukas 6:20-27) loop. God SELF skenk hulle geluk en vrede bo alle mense verwagtinge.
Die derde spreuk hanteer die gelowige se sagmoedigheid. Hierdie mense beërwe die aarde.
Sagmoedigheid het te doen met onderworpenheid en nederigheid.
Dit is ‘n onderworpenheid aan God wat jou nederig tot jou naaste maak. Sagmoedigheid is nie rugraatloosheid of lamsakkigheid nie, maar iemand wat in die konstante bewustheid leef van sy/haar onderworpenheid aan God. Die sagmoedige soek onophoudelik die eer van God en sy naaste.
Dit bou mooi op die vorige spreuke, want die arme van gees leef in afhanklikheid van God, treur oor die sonde wat hom aankleef en besef dan dat hy/sy niks het om op te roem nie. Dit dring tot nederigheid en onderworpenheid. Sagmoedigheid strook daarom nie met die mens se natuurlike geaardheid nie, want die natuurlike mens is ingestel op homself en sy eie eer. Daarom is sagmoedigheid ‘n onontbeerlike deel van die gelowige se mondering.
EN toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom;