Getuigskrifte is belangrike dokumente. Dit gee ‘n indruk van die werksetiek van ‘n betrokke persoon en die aanbeveling van ‘n derde, of selfs vierde party kan vir jou dikwels ‘n deur in jou loopbaan oopmaak. Op die kerklike terrein gee ons getuigskrifte aan ons predikante as hulle belangrike vergaderings gaan bywoon; wat weer hul opdrag (of mandaat) bevat: hulle moet help om te oordeel dat die besluite volgens die Woord van God geneem word. Wanneer lidmate vertrek na ander gemeentes, getuig die kerkraad oor hul handel en wandel met ‘n attestaat, sodat die nuwe gemeente kan weet dat hierdie broer en suster dieselfde dinge glo en bely as ons.
Daarom is dit onbetwisbaar: ons maak baie staat op getuigskrifte.
Wanneer Paulus hierdie tweede brief aan sy geestelike kinders in Korinte skryf, is dit deels omdat hy dankbaar is vir vrug op sy arbeid, maar deels omdat hy onder die indruk van nog slegte nuus in hulle midde gekom het. Valse apostels het op een of ander wyse ‘n valse getuigskrif bekom en versprei nou ‘n ander – en boonop ongesonde, valse – evangelie as wat die Woord bring. Boonop word Paulus se apostelskap in twyfel getrek en dit veroorsaak verwarring. Want watter manier is beter om die dwaal-evangelie te vestig as om die gesant van God in sy persoon aan te val?
Die boodskap van Paulus is egter doodgewoon: Julle is die skeppingswerk van Christus deur die Gees. Die feit dat julle glo, en in die Here wandel – dit is alleen getuigskrif genoeg dat ons die waarheid praat. Die feit dat daar ‘n gemeente bestaan is reeds die wonderlikste, lewendigste getuigskrif – en dit van Jesus Christus Self!