Skip to content
Menu

Dit is ongelukkig so dat die leer rondom die sakramente baie twis in die kerkgeskiedenis
ontketen het. Dit is ingestel as tekens en seëls van die verbond, gegee om ons te
versterk en te laat verstaan hoe konkreet die verlossing in Christus is en ons op te wek
om in dankbaarheid te leef.
Maar, soos met baie dinge, het die mens se sondige natuur die wonder van die
sakramente op gruwelike wyse skeefgetrek.
Nêrens in die Skrif is dit duideliker as in die gemeente daar in Korinte nie. Gewoonlik is
die sakrament by ‘n liefdesmaal, die sg. Agape, gevier waar die gemeente heerlik saam
verkeer het as gemeenskap van gelowiges. Tog het dinge so ontspoor dat daar diegene
was wat uit selfsug nie hul gawes van voedsel en drank met die minder vermoëndes in
die gemeente wou deel nie en gevolglik het dit die bedoeling van die Nagmaal heeltemal
verydel.
Daaroor vermaan Paulus die gemeente indringend en neem hulle terug na die instelling
van die Nagmaal, die aand waar Jesus verraai en gekruisig is. Weg van enige dwaling,
en mistasting van die genade, is die Nagmaal bedoel om ons in geloof aan God en
mekaar te bind en op te bou. Daarvoor is daadwerlike selfondersoek nodig sodat ons
die Nagmaal reg en troosryk kan vier.
Die tekens en seëls bind ons in die eenheid van ware geloof aan ons Hemelse Vader en
daarom leef ons in dankbaarheid.