Skip to content
Menu

Prediker: Ds. Jan-Louis Lee  |  Kerk: GK Waterkloofrand  |  Datum: 6 September 2026 om 17:30  |  ▶ Kyk op YouTube


Het jy al gewonder waarom gelowiges sing? In Kolossense 3:16 koppel die apostel Paulus die erediens se sang nie aan blote tradisie of persoonlike musieksmaak nie, maar regstreeks aan ons nuwe lewe in Christus. Sang is die natuurlike uitvloeisel van ‘n hart waarin die genade van God posgevat het.

“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon… leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere…”

Eerstens: Wat sing ons? Omdat die Woord ryklik in ons moet woon, sing ons die Woord self. Die kerk was nog altyd ‘n singende kerk — van Moses, Dawid en die vroeë Christene tot by die Reformatore. Wat ‘n kerk sing, bepaal en verraai sy teologie. Daarom hou ons vas aan God se eie geïnspireerde liedere, die Psalms en Skrifberymings, wat ons opvoed, bewaar teen dwaalleer en mekaar laat vermaan. Samesang is immers ‘n kragtige bediening van die gelowiges aan mekaar.

Tweedens: Hoe sing ons? Ons sing nie onnadenkend of met die mond alleen nie. Paulus sê ons moet “in alle wysheid” en “met dankbaarheid in julle harte tot eer van die Here” sing. Die waarheid van die evangelie aktiveer ons hele menswees. Wanneer ons sing, bely ons ons eenheid in Christus, verwoord ons ons diepste vreugde en beproewing, en gee ons stem aan die verlossing wat ons ontvang het.

Laat ons daarom nooit die voorreg versmaad om saam die Here te loof nie. Moenie moedeloos word oor die lewe se swaarkry of koud bly onder die lofsang nie. Sing met die verstand en die hart, want God het ons geroep om vry te wees. Laat sy Woord ryklik in julle woon, en sing tot eer van sy Naam!

Vrae ter bespreking:

1. Waarom, leer ons, wil God hê dat gelowiges saam moet sing?

2. Wat beteken dit om nie net met jou mond nie, maar ook met jou hart te sing?

3. Hoe kan ‘n lied wat die Bybel se waarheid bevat jou help wanneer jy beproewings en moeite ervaar?

4. Waarom is dit belangrik om as kerk mooi te dink oor wat ons sing?

5. Hoe kan jy deur jou sang ander bemoedig of help?