Prediker: Ds. Jan-Louis Lee | Kerk: GK Waterkloofrand | Datum: 29 November 2026 om 09:00 | ▶ Kyk op YouTube
Jesaja 53 is een van die aangrypendste hoofstukke in die Ou Testament. Eeue voor Christus se koms beskryf die profeet hoe die Dienaar van die Here geweldig sou ly, maar ook hoe sy lyding versoening vir ander se sondes sou bewerk.
Hierdie Dienaar is niemand anders nie as Jesus Christus.
Die Nuwe Testament bevestig dit telkens. Daarom word Jesaja 53 tereg die Evangelie van die Ou Testament genoem.
1. DIE GEWELDIGE LYDING VAN DIE DIENAAR VAN DIE HERE
Jesaja beskryf die Dienaar as iemand sonder uiterlike aansien of heerlikheid. Hy is verag, verwerp en deur mense verstoot. Hy was ‘n Man van smarte wat lyding geken het.
Hierdie profesie het in Jesus Christus vervulling gevind. Hy is bespot, gespoeg, geslaan en uiteindelik gekruisig. Maar sy lyding was veel meer as liggaamlike pyn. Aan die kruis het Hy die oordeel en toorn van God oor ons sondes gedra. Hy is deurboor oor ons oortredings en verbrysel oor ons sondes. Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom.
2. WAT DIE DIENAAR VAN DIE HERE SE LYDING BEWERKSTELLIG HET
Christus het nie vir sy eie sondes gely nie, want Hy was sonder sonde. Hy het plaasvervangend vir ons gely. God het Hom as skuldoffer gegee sodat ons skuld betaal en ons met Hom versoen kon word.
Deur sy offer het Christus ons volkome van die sonde verlos. Hy is opgewek en verheerlik. Nou het ons vrye toegang tot God en ontvang ons die Heilige Gees, wat ons lei om in dankbaarheid vir Hom te lewe.
SLOT
Christus se lyding was geweldig, maar deur sy lyding het Hy ons verlossing bewerk. Ons sonde is versoen en ons ontvang genesing deur sy wonde. Daarom leef ons nie meer vir onsself nie, maar as lewende offers tot eer van God.
Psalm 47:1,2 & 4
Psalm 130:1 & 4
Skrifberyming 3-1:1 & 2
Psalm 118:1,8 & 11
Psalm 104:1,2,4,8,19 &20