Skip to content
Menu

Lees: Psalm 146: 1-10 (BDV 2020-vertaling)        Teksverse: 3, 5-6        Sing: Psalm 118 (Totius): 2, 4, 12; Psalm 90 (Totius): 4, 7; Psalm 62 (Totius): 5, 6; Psalm 146 (Totius) [Beurtsang]: 1 (almal), 2 (susters), 3 (broers), 4 (almal); Skrifberyming 13-3.

Die Here is getrou en nie die mens nie, daarom vertrou op Hom alleen!

Op wie stel ons ons vertroue? Meeste van ons het moontlik op een of ander stadium geleer om nie op mense te vertrou nie. Alhoewel ons dit weet, bly dit steeds ‘n uitdaging. Want elke dag is ons in kontak met mense; mense soos familie, ouers, vriende, vriendinne, kollegas, kliënte, besoekers en vreemdelinge. Ons ontmoet mense en leer hulle ken. As mense bou ons saam vriendskappe, verhoudinge en selfs vertroue op. Ook bou ons nie net vertroue op mense met wie ons elke dag fisiese kontak het nie, maar saam met miljoene inwoners van Suid-Afrika op mense wat groot invloede het. Dan gebeur dit soms dat ons ons vertroue in mense stel, net om later teleurgestel te word of baie seer te kry.

Psalm 146 is ‘n loflied wat leer dat die mens nie te vertrou is nie, want die mens self is nie getrou nie. Terwyl die mens dan nie te vertrou is nie, staan Here in kontras as die Een wat te vertrou is, want Hy self is getrou.

Die mens is nie te vertrou nie, want die mens self is nie getrou nie

Psalm 146 is ‘n baie bekende- en geliefde loflied, maar ‘n loflied met ‘n vermaning (v. 3): “Moenie op vooraanstaandes vertrou nie …” Hierdie vooraanstaandes verwys na hoë en invloedryke mense wat uitkomste kan bied. Dit is mense wat baie gunstig in die oë kan lyk om op te vertrou. Die psalmdigter vermaan ons om nie op hierdie mense te vertrou nie. Die antwoord is baie eenvoudig: hulle is nietig. Hulle is ook maar mense wat die asem uitblaas en terug keer na die aarde (v. 4). Dit baat nie om op mense te vertrou nie.

Die Here is te vertrou, want Hy self is getrou. Vertrou op Hom alleen!

Terwyl die mens nie te vertrou is nie, staan die Here as die Een wat te vertrou is, want Hy self is getrou. Die digter gee twee redes waarom die Here te vertrou is en dat Hy uitkomste bied: Hy is die Skepper van die hemel en die aarde, en Hy bly trou tot in ewigheid (v. 6). Die Here bewys dit aan sy verbondskinders veral in moeilike en swaar omstandighede waarin hulle kan verkeer (v. 7-10). Die duidelikste- en wonderlikste bewys en sekerheid lê in sy Seun (Jes. 42:1-7; 61:1-2; Luk. 4:16-21). Daarom kan en moet ons op die Here alleen vertrou. Wanneer ons dit doen dan sien en beleef ons sy heerlike seën (v. 5); ‘n seën van vreugde en lof!