Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Skriflesing: Handelinge 20:7-12      Teksvers: 7        Sing: Sb. 1-2:1,2,3; Ps. 51:1,8; Ps. 107:2,4; Ps. 42:1,5; Ps. 23:3; Ps. 116; Ps. 138:1,3,4.

‘Toe ons op die eerste dag van die week byeengekom het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag wou vertrek, en sy rede uitgerek tot om middernag.’

DIE EVANGELIE – HOORBAAR EN SIGBAAR

Die apostel Paulus is oppad na Jerusalem. Hy is aan die einde van sy derde sendingsreis. Hy is haastig. As Pinkster aanbreek wil hy graag by die gemeente in Jerusalem wees. ‘n Kort stop maak hy en sy reisgenote in Troas. Vers 6 sê – ‘Self het ons egter eers ná die dae van die Fees van die Ongesuurde Brood vanaf Filippi gevaar, en vyf dae later by hulle in Troas aangekom, waar ons sewe dae lank gebly het.’ Maar in die paar dae in Troas gebeur daar iets aangrypend. ‘n Kerkdiens wat niemand sou vergeet nie. Dit kan jou aan die dink sit. Ken jy ook iets hiervan in jou lewe? ‘n Besondere erediens? ‘n Erediens waarin daar iets groots gebeur het? ‘n Onvergeetlike geleentheid, waar die Here deur Sy Woord en Gees met krag tot jou siel praat?

‘n Sondagaand in Troas

Ons het gelees van ‘n erediens in Troas. As jy dit hoor, merk jy dat daar ‘n groot verskil is tussen hoe hulle daar kerk hou en ons vandag. In die stad Troas het die mense in iets soos woonstelle gebly. Party van die geboue het selfs agt verdiepings gehad. By een van die lidmate, wat op die derde verdieping woon, het hulle die aand bymekaargekom. In ‘n vertrek vol olielampe. Daar het Paulus gepreek. Eutigus ‘n jong man het aan die slaap geraak, geval en gesterf. Die erediens word dan onderbreek deur ‘n groot wonder. Soos die profete, Elia en Elisa, van ouds, gaan lê Paulus op die jong man en hy leef weer. En dan gaan hulle verder met die breek van die brood en die prediking van die Woord.

Die voorreg om brood te breek

Die uitdrukking “brood te breek” kan ons verstaan dat hulle nagmaal gevier het. In die hoofstuk wat uitvoerig oor die nagmaal handel in 1 Korinthiërs 11 is dit ook duidelik. Daar skryf Paulus spesifiek oor die nagmaal (vers 20), en in dieselfde gedeelte verwys hy ook na die Here Jesus wat in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Om brood te breek het ‘n vaste uitdrukking vir die nagmaal geword. Op die eerste dag van die week het die gelowiges bymekaargekom en brood gebreek.

Die troos deur die prediking

Toe die jongman Eutigus vanaf die derde verdieping na sy dood val en Paulus hom weer lewend gemaak het, lees ons: Hy het weer “boontoe gegaan en brood gebreek en geëet” (vers 11). Aangrypend. Die verhaal stop nie by die wonder wat gebeur nie. Eers word daar nog vertel van die Here wat die wonder moontlik maak. ‘n Buitengewone erediens op ‘n Sondagaand wat niemand sou vergeet nie.