Die uitsending kan hier regstreeks gevolg word.
Skrifklesing; Galasiërs 4: 1-7 Teksvers: 4 Sing: Ps. 93:1,2,3,4; Ps. 139:1,12; Ps. 119:1; Sb. 10-2; Ps. 134:4; Sb. 4-6.
‘maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet’
TOE DIE TYD VERVUL IS
Ons jaartelling is vir die meeste van ons ‘n gegewe. Dit is 2023, amper 2024. Dit is nie iets waarmee ‘n mens eintlik besig is nie. Maar lees jy die gedeelte uit Galasiërs 4, en begin dink oor die verloop van tyd, dan is dit eintlik nogal aangrypend om te besef dat die meeste mense van die wêreld, se jaartelling aan Jesus Christus gekoppel is. As jy sê 2023 of 2024, dan is dit by voorbaat gekoppel aan die geboorte van Christus. Dit is reeds lank gelede so vasgestel. Die geboorte van Jesus Christus dien as keerpunt van die tyd. Dit pas pragtig by die woorde van Paulus: Toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur. Met die koms van Jesus is een tydperk afgesluit. En ‘n nuwe tyd het begin. Hy is gebore in die volheid van die tyd.
‘n Hemelse perspektief
Galasiërs 4 sou jy die kersverhaal volgens Paulus kon noem. Kort en kragtig. ‘toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet.’ Geen verdere details nie. Die naam van Maria word nie genoem nie. Ons loop nie die herders, die engele of die wyse manne raak nie. Geen stal, geen krip, selfs Betlehem word nie genoem nie. Paulus laat al hierdie historiese besonderhede weg, om ons gedagtes op iets anders te fokus. Jesus is gebore, omdat God sy Seun stuur in die volheid van die tyd. Die oomblik van die geboorte van Jesus Christus is nie willekeurig gekies nie. Op ‘n presiese oomblik, waarin die geskiedenis van die wêreld verander word, stuur God sy Seun. Vir ons bemoedigend om te sien hoe die Here werk. Alles gebeur volgens sy raad, volgens sy plan.
Die belofte vervul
Kan ons meer weet hoekom dit juis op die spesifieke tyd moes gebeur? Sal dit ons help om beter te verstaan wat ons eintlik met Kersfees vier? Wat het nou eintlik verander met die koms van Jesus? In watter tyd leef ons nou? Jesus se geboorte was nie net die einde van Maria se swangerskap nie. Ook die swangerskap van die wêreld loop uit op die geboorte van Jesus Christus. Vanaf die moederbelofte na die sondeval was die wêreld in verwagting. Swanger van die belofte dat God sal kom. Die tyd is ryp. Die ou bedeling het sy tyd gehad. Nou word dit tyd vir iets nuut. Verwagting maak plek vir ontvang.
Die tyd is nou
God het sy Seun gestuur. Gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet. Sedert die geboorte van Jesus waai ‘n ander wind op die aarde. Dit is werkllik ‘n nuwe era. Die tydperk van sy Gees. Hy wat mense vrymaak. Ons is nie meer slawe nie, maar erfgename van God se genade. Hy wat mense in verbinding met die Vader bring deur hulle te leer om ‘Abba’ te sê. Soos ‘n ma haar kind leer. Dit is hoe die Gees ons leer roep: “Abba, Vader!”