Skip to content
Menu

Romeine 13:1-7
NGB Artikel 36

‘Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel…Want die owerheid is ‘n dienaar van God, tot jou beswil.’

KINDERS VAN DIE HERE EN DIE OWERHEID

Elkeen van ons weet seker wie ons president is. Maar weet jy ook dat God weet wie die president is? God weet dat Cyril Ramaphosa ons president is. Hy weet wie 5 jaar terug president was. So ook 10 jaar en honderd jaar terug. Hy weet wie hier in ons land regeer. Hy weet wie in elke land op die wêreld op die oomblik regeer. Daar is altyd mense wat hou van hoe ‘n leier iets doen, ook altyd hulle wat nie daarvan hou nie. Van die begin af is dit so. Maar of ons van ons regeerders hou of nie, is ‘n bysaak. Want een saak staan vas. In hierdie sondige wêreld stel die Here regeerders vir die volke in plek. So regeer Hy oor hulle. Ons bely in die NGB – ‘Ons glo dat ons goeie God vanweë dieverdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel het.’Hier word die tema van die gelowige en die owerheid aangespreek. Hoe staan ons as gelowiges onder die gesag van die owerheid? Hoe is ons onderdanig aan ‘n owerheid wat hom nie aan God steur nie?

Die Here regeer

In Romeine 13 skryf Paulus – Elke mens moet onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en die wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ‘n oordeel oor hulleself bring…Want die owerheid is ‘n dienskneg van God tot jou beswil. (Romeine 13:1-6) Die Here regeer deur owerhede.

Die owerheid organiseer

Die owerhede moet toesien dat alles hier ordelik verloop. Ons bely in artikel 36 dat dit die Here se wil is dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer word. Die owerheid moet dit organiseer. Hulle moet toesien dat die losbandigheid van die mens in bedwang gehou word en dat alles onder die mense ordelik verloop. Hulle moet toesien dat ‘n land se mense beskerm word in ‘n tyd van nood.

Ons eer

Ons glo God wil die rustige lewe op die aarde in stand hou. Daarom is daar ‘n owerheid. Hierdie beginsel is al vasgestel in die huisgesin. Kinders word gestel onder die gesag van hulle ouers en moet hulle daaraan onderwerp en gehoorsaam wees. Die “eer jou vader en jou moeder…” van die vyfde gebod verklaar ons Kategismus soos volg: “Dat ek my vader en my moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou moet bewys…” (v&a 104)