Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Skrif: Rut 3 Teksvers:9 Sing: Ps. 122:1,2; Sb. 12-3:1,2; Ps. 9:7; Ps. 89:2; Ps. 91:1; Onse Vader; Ps. 150:1,2,3.
“Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser.”
RUSPLEK ONDER DIE VLEUELS VAN DIE HERE
Hoe lees jy hierdie gedeelte? Wat gaan deur jou gedagtes as jy dit hoor? ‘n Ou vrou Naomi wat vir haar skoondogter ‘n man probeer vind. ‘n Jong vrou wat ‘n huweliksaansoek by ‘n ryk boer indien. Vanuit menslike oë is dit die perfekte verhaal, vir ‘n goeie romantiese fliek. Vanuit Westerse gedagtegang, lyk dit alles verdag. ‘n Vrou wat in die middel van die nag ‘n man besoek. Ons mag dit deur die geloof lees. Met gedagtes wat gesuiwer is deur die Gees sien jy God se openbaring. Hy bring hier twee van sy uitverkore kinders bymekaar. En jy sien hoe hierdie twee, nederig die weg van die Here volg. Hulle leef volgens sy wette en instellings. Volgens sy wil. Die Here lei vir Rut na ‘n rusplek toe.
Ons soek dit met ’n vurige hoop
Naomi soek vurig na ’n rusplek vir Rut. Sy vra in vers 1 – ‘My dogter, moet ek nie vir jou ‘n tuiste soek waar dit met jou goed sal gaan nie?’ Rut as Moabiet se toekoms lyk maar somber in die beloofde land. As Naomi tot sterwe kom, wat sal dan van Rut word? Daarom soek Naomi na ’n oplossing. Sy hoop dat Rut rusplek kan kry by ’n losser. Die Here het dit so bestem dat families vir mekaar sal sorg.
Ons vind dit in suiwer liefde
Daarvoor het Naomi ’n plan. Rut moet haarself gereedmaak en na Boas gaan. In die nag moet sy hom nader en hom vra of hy haar losser sal wees. Rut voer Naomi se opdrag noukeurig uit. Boas se antwoord getuig van sy kennis van die Here en die liefde wat in sy hart leef. Hy sal vir Rut ’n rusplek gee, maar eers moet daar met die ander losser gepraat word.
Ons leef daarin met opregte geloof
By Naomi, Rut en Boas is daar ‘n opregte geloof. Die geloof is sigbaar. Rut se eerbiedigheid. Boas se omgang met Rut. Naomi se kennis van die Here se wet. Dit alles getuig van opregte geloof. Vandag deel ons hierdie geloof met hulle. Deur ons Verlosser Jesus Christus vind ons saam met hulle rusplek onder die vleuels van die Here.