Skip to content
Menu

Lees 1 Timoteus 2:1-7 <- Klik om nou te lees Teks: verse 5-6 Dit is die gelowiges wat eksklusief God se mense is. Is ons as gelowiges werklik die enigste mense wat van God die ware lewe ontvang het? Paulus laat hieroor geen twyfel nie. Die gelowiges is die enigste mense wat tot die “kennis van die waarheid” gekom het (2:4) en hulle Verlosser is die enigste verlosser (2:5). Dié mense wat Jesus Christus as Saligmaker het, is eksklusief die mense wat van God die ware lewe ontvang. God se mense is met oortuiging inklusief gerig. Uit ons gelese gedeelte lyk dit of gelowiges daar in Efese verkeerde afleidings gemaak het uit die feit dat God net aan gelowiges die ware lewe gee. Hulle het aanvaar dat mense wat eksklusief aan God behoort ook eksklusief gerig moet wees – hulle moet net omgee vir die gelowiges. Ander mense, so het hulle geglo, is die vyand. Paulus gaan in 2:1-7 radikaal in teen hierdie opvatting. Hy beklemtoon: - dat God se eksklusiewe mense met oortuiging inklusief gerig is. Paulus gee twee redes waarom gelowiges met oortuiging inklusief gerig is. Eerstens wys hy daarop dat dit vir God goed en aanneemlik is dat gelowiges op alle mense gerig is en dat Hy wil hê dat alles mense tot geloof moet kom (vgl. 2:3-4). Wie eksklusief net vir gelowiges omgee, is met God self in stryd. Tweedens maak hy duidelik dat daar maar net een God is en een Middelaar tussen God en die mense, naamlik Jesus Christus. Wie dit begryp, sal weet dat mense wat nie in hierdie God glo en deur hierdie een Middelaar salig word nie, verlore sal gaan. Dit sou onverstaanbaar wees as iemand wat die enigste God en die enigste Saligmaker leer ken het, hierdie kennis eksklusief weghou van mense wat hierdie kennis nie het nie. - twee wyses waarop gelowiges se inklusiewe gerigtheid na vore kom Gelowiges behoort intens daarvan bewus te wees dat gelowiges se gebede ʼn kragtige uitwerking het. Die omgee van gelowiges vir alle mense sal daarom juis na vore kom wanneer gelowiges nie eksklusief bid nie. Hulle moet vir álle mense bid. En hierdie omgee moet in alle soorte gebede wat hulle bid, na vore kom (vgl. 2:1-2). Paulus herinner ook die gelowiges daar in Efese aan die rede waarom God hom geroep het. Hy moes die heidennasie onderrig in die geloof en die waarheid. Dit is hoe God sy eksklusiewe mense roep om inklusief in hierdie wêreld te wees. Hulle moet sy Blye Boodskap verkondig.