Skip to content
Menu

Lees Lukas 1:5-25 <- Klik om nou te lees Teks: vers 22 Wie insig het in die genade en krag van die koninkryk se koms sal meer wees as ʼn priester wat net beduie. Sonder insig is ons nie meer as ʼn priester wat net beduie nie. Daar was ʼn tyd dat dit vir Sagaria en Elizabet vanuit hulle persoonlike omstandighede belangrik was dat Sagaria ʼn diensbeurt in die tempel sou kry. Met so beurt, so is geglo, kon ʼn priester nie vir die volk intree nie, maar ook vir homself. Hy sou kon vra dat die Here vir hom en Elizabet ʼn kindjie gee. Toe hy wel ʼn diensbeurt kry, was hulle twee al te oud om vir ʼn kindjie te vra. Met die offer van die wierook, bid hy daarom wat priesters altyd in daardie tyd gebid het. Saam met die volk buite die tempel bid hy dat die koninkryk van Israel opgerig sal word (vgl. Hand. 1:6). God is die ware Koning en sy koningskap moet sigbaar gestalte vind. Op daardie oomblik van gebed verskyn ʼn engel en kondig aan dat sy gebed verhoor is. God gaan sy koninkryk laat deurbreek. Sagaria kan uitgaan en die volk seën soos alle priesters voor hom die volk geseën het. Die seën kon nou egter in voller rykdom uitgespreek word. Sagaria het egter nie insig in dit wat die engel vir hom gesê het nie en hy wil ʼn teken hê. Hy word self ʼn teken. God se priester wat die seën met ʼn duideliker inhoud as ooit te vore moes uitspreek, is nou stom en kan net beduie. Sonder insig is ons nie meer as ʼn priester wat beduie nie. Ons het insig in die genade en die krag van die koninkryk se koms nodig. Watter insig en vertroue het ons nodig? Die engel sê dadelik aan Sagaria wat die naam van die seun moet wees wat hy en Elizabet gaan ontvang. Sagaria hoor dit. Hy weet wat die naam beteken wat God aan die kind gee, naamlik “God is genadig.” Hy begryp egter nie die betekenis daarvan dat die padmaker van die Messias Johannes genoem moet word nie. God se genade waarop al die Ou Testamentiese gelowiges gehoop het en waarvan die offers van die ou bedeling gespreek het, gaan nou gebeur. So sigbaar en sprekend soos sy vrou se liggaam gaan verander met die kindjie wat in haar sal groei, so sigbaar en sprekend sal God se genade word in die koninkryk wat nou gaan deurbreek. Om werklik priester in God se diens te wees het ons insig in die genade van God nodig- dié genade wat skitter in die koms van die koninkryk. Die engel antwoord Sagaria se twyfel ook met ʼn naam. Hy sê dat hy Gabriël is, “God is magtig.” Sagaria het nie begryp dat die koninkryk wat nou begin gestalte kry, nie mensgemaak is nie. Dit kom met God se krag. Om priesters te wees wat nie net beduie nie, is dit nodig dat ons insig het in die genade en krag van die koninkryk se koms. Met insig beduie ek nie net nie, maar is ek werklik tot seën. As ek insig het in die genade (Johannes) en krag (Gabriël) van die koninkryk se koms, is ek werklik tot seën. Ek beduie nie net nie, want ek het insig in: • die radikale verandering wat die koms van die koninkryk ook binne myself bewerk het. Ek weet dat God se genade en krag my nie tot las nie, maar tot seën stel. • die genade van die Koning in die koms sy ryk. Ek is tot seën deurdat ek die besonderhede van hierdie genade deur woord en daad uitspel. • die onstuitbare krag van die koninkryk Met insig in hierdie krag het ek self moed en kan ek ander bemoedig.