Skip to content
Menu

Lees Hebreërs 11 <- Klik om nou te lees Teks: 13 Jy wat reeds met insig na die heelal gekyk het, moet nou ook met onderskeiding luister. Jy het reeds met insig na die heelal gekyk. Die skrywer maak in 11:3 duidelik dat daar meer in die heelal te “sien” is as dit wat jy met jou oë waarneem. Naas die sigbare dinge wat jy met jou oë waarneem, kan jy ook iets onsigbaar “sien.” Jy kan die Skepper in aksie “sien.” Jy kan sien dat die Skepper nie iets nodig gehad het om dit wat jy met jou oë waarneem, te skep nie. Jy kan sien dat Hy dit wat jy met jou oë waarneem, uit niks gemaak het. Jy kan sien dat Hy net gesê het, en toe is dit geskep. Wie hierdie onsienbare kan “sien”, is iemand wat met insig na die heelal gekyk het. Jy moet egter nou ook met onderskeiding luister. As ek so met insig na die skepping gekyk het, is dit ook nodig om met onderskeiding te luister. Daar word baie verwarrende boodskappe verkondig aan mense wat met insig na die heelal gekyk het. Daar word byvoorbeeld aan hulle verkondig dat hulle naïef is, gebreinspoel is deur die kerk of dat hulle onwetenskaplik is en weier om feite te aanvaar. In 11:3 gee die skrywer die boodskap wat iemand moet hoor wat met insig na die heelal gekyk het. Hy sê dit is omdat ons “glo” dat ons weet dat die wêreld deur die Woord van God geskep is. Tussen al die boodskappe wat ek dus hoor, is daar een boodskap wat van God af kom. Ek moet hoor dat God sê: “Jy gló.” Rig jou met oortuiging op hulle wat nie met insig kyk nie. Dié mense wat sonder insig na die heelal kyk, klink baie selfversekerd. Hulle selfversekerdheid veroorsaak dikwels dat ons nie sien in watter nood hulle verkeer nie. Hulle herken en erken immers nie die Skepper nie. Ons merk ook nie hoe kwesbaar hulle in hulle oortuigings is nie. Anders as ons wat met insig na die heelal gekyk het, ontvang hulle geen versekering van die Here af nie. Hulle tas soos blindes rond en moet net al hoe harder skreeu om hulleself te oortuig. Ons moet ons daarom op hierdie mense in hulle nood rig. Ons kan dit met sekerheid doen, want ons is mense wat deur God verseker word. Ons wat kan “sien” moet hulle wat “blind” is, lei en nie andersom nie!