Lees 2 Konings 4:1-7
Teks: vers 4
God versterk sy kinders deur baie persoonlik te voorsien.
God gebruik my persoonlike nood om te voorsien.
In die tyd toe Elisa opgetree het, het daar maar min van Israel oorgebly wat werklik hulle vertroue in die Here gestel het (vgl. bv. 1 Kon. 19:18). Deur Elisa versterk die Here dié mense wat wel hulle vertroue in Hom gestel het. In die gedeelte wat ons vanoggend gelees het, hoor ons van ʼn besondere manier hoe die Here ʼn vrou in haar geloof versterk het. Dié vrou was getroud met ʼn profeet. Die profeet met wie sy getroud was, het die Here gedien. Die vrou was dus deel van ʼn gesin wat in toewyding aan die Here en onder sy sorg geleef het.
Alles het egter nie bly goed gaan met hierdie gesin nie. Die vrou se antwoord aan Elisa wys hoé ernstig dinge verkeerd geloop het. Toe hy vra: : “Wat het jy in jou huis?”, antwoord sy: “Ek het niks in die huis nie behalwe ʼn erdekannetjie olie.” Sy kon ook uitgebrei het. Sy kon ook gesê het dat sy dood, hartseer, ʼn dreigende bankrotskap en kommer oor die toekoms van haar seuns in haar huis het.
In haar nood, eintlik as gevolg van haar nood, begryp hierdie vrou waar haar redding lê. Sy besef weer opnuut dat sy nie die pad van so baie ander moet volg en by die baälprofete hulp moet gaan soek nie. Sy gaan na die “man van God”, na Elisa (“God is redding”) toe. Nood, beproewinge is ook voorsiening deur God. Hy voorsien nie net in nood nie. Hy voorsien ook deur nood.
Deur van my persoonlik ʼn daadgeloof te vereis, voorsien God.
Elisa bied op ʼn besondere manier aan hierdie vrou hulp. Hy doen nie ʼn wonder om die vrou te help nie. Hy stuur haar om ʼn klomp leë kanne in haar huis uit ʼn erdekannetjie olie te gaan vol maak. Sy moet vertrou dat die kanne uit die kannetjie volgemaak kan word. Sy mag nie versink in die toestand van passiwiteit waarin soveel van haar volksgenote verval het nie en hulploos wag dat die ergste gebeur nie. Die Here se voorsiening is dus nie eerstens die olie wat vermeerder het en wat sy kon verkoop nie, maar die daadgeloof waartoe sy gebring is. Hulle wat werklik deur Jesus Christus verlos is, weier nie hierdie voorsiening van God nie. Omdat die Gees in hulle woon, reageer hulle op God se eis tot ʼn daadgeloof.
God voorsien deur baie persoonlik aan my te gee.
Elisa gee uitdruklik opdrag dat die vrou die deur agter haar en haar seuns toemaak wanneer sy die leë kanne vol maak. Daar waar hulle privaat bymekaar is, laat die Here voor haar en haar seuns die wonder plaasvind. Die olie wat sy kon verkoop, was belangrik om te keer dat haar seuns nie as slawe verkoop word nie. Baie belangriker as dit nog, was die boodskap was sy en haar seuns ontvang het. Niks moes die aandag van hierdie boodskap aftrek nie. In die privaatheid van hulle huis verseker die Here hulle dat Hy persoonlik vir hulle sorg. In Christus het God persoonlik vir my gesorg. Nou verseker die Gees my van God se persoonlike sorg en ek moet moeite doen dat niks my aandag aftrek van hierdie versekering nie.