Lees Ester 1
Teks: vers 22
Vir dwase regeerders is dit “business as usual”. Waar is God dan?
Oppervlakkig gesien, is dwase regeerders onstuitbaar.
Het u gemerk hoe die heerlikheid en mag van Koning Ahasveros in die gedeelte wat ons vanoggend gelees het, beklemtoon word? Hy hou ʼn onthaal van honderd en tagtig dae waarin waarskynlik beplan is vir ʼn oorlog om sy mag uit te brei. Hy spog met sy prag en praal. In ʼn onthaal ná hierdie beplanningsessie, vloei die drank vryelik en in sy dronkenskap besluit hy om sy vrou te gebruik om homself te verheerlik. Hy wil haar skoonheid aan sy gaste vertoon. Sy vrou weier om haar so te laat misbruik en Ahasveros is woedend. Hy vaardig ʼn onveranderbare wet uit waardeur hy van sy vrou ontslae raak en ook sorg dat mans in al die gebiede waaroor hy regeer, baas sal wees in hulle eie huise! Onstuitbaar neem die koning besluite en voer dit uit. Is dit ook hoe ons oor regeerders dink – dat hulle onstuitbaar is? Dat dit eintlik hulle is wat ons lot bepaal?
Juis in hul onstuitbaarheid loop regeerders hulle teen God se regering vas.
ʼn Mens sou kon vra: “Waar is God wanneer regeerders in hulle verwaandheid besluite neem (en dit uitvoer) wat mense se lewens direk raak?” Nêrens in al die gebeure wat beskryf word (of in die hele boek Ester), word na God verwys nie. Dit is asof Hy met al hierdie gebeure niks te doen het nie, asof Hy afwesig is. Maar is dit werklik so? Het Hy niks te doen met die Ahasveros wat ʼn dwase opdrag aan sy vrou gee nie of met sy vrou wat weier om haar te laat misbruik nie? Het hy niks te doen met die onstuitbare wet wat uitgevaardig word nie? Die dwaasheid (sonde) van regeerders is hulle eie dwaasheid en word nie deur die heilige God veroorsaak nie. God neem egter die regeerders met hulle dwaasheid in sy diens. Wanneer die koning vasgevang in sy eie sondige strewes van sy vrou ontslae raak, word hierdie optrede die weg waarlangs God uiteindelik sy volk teen die onstuitbare wette van dieselfde koning sal beskerm. Juis in sy onstuitbare wet, stuit die koning teen die regering van die Here.
God is by die wat aan Hom behoort wanneer regeerders “onstuitbaar” regeer.
Waar is God dus wanneer regeerders in hulle verwaandheid “onstuitbare” besluite neem? Hy is by hulle wat aan Hom behoort. Hy is nie afwesig waar daar in dwaasheid beplan en besluit word nie. Deur die wyse waarop Hy egter daar betrokke is, is Hy eintlik by hulle wat aan Hom behoort. Vir hulle laat Hy alles ten goede uitwerk. Hoe onstuitbaar was die druk teen Jesus Christus nie? “Kruisig Hom”, het hulle geskree. Hoe onstuitbaar was Pilatus se opdrag nie? Hoe onstuitbaar is die beplanning en besluite nie uitgevoer nie? Ook hierdie moeder van alle dwaasheid is deur God gebruik ter wille van hulle wat aan Hom behoort. Waar was God toe hierdie beplanning teen Jesus en uitvoering daarvan gedoen is? Hy was by hulle wat aan Hom behoort. Waar is God nou as regeerders in die hede “onstuitbaar” regeer? By sy kinders!