Prediker: Ds. JL Lee | Kerk: GK Waterkloofrand | Datum: 30 Augustus 2026 om 17:30 | ▶ Kyk op YouTube
Ons het pas van die Nagmaaltafel af opgestaan. Daar het die Here ons deur brood en
wyn verseker dat Christus werklik vir ons sondes gesterf het en dat ons aan Hom
behoort. Maar wat gebeur nadat ons van die tafel af opstaan? Hoe lyk ’n mens wat deur
die Nagmaal getroos is wanneer hy weer Maandag se wêreld binnestap?
Paulus sê: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het.” Ware bekering
beteken dat daar iets nuuts in ons lewe begin. Die Heidelbergse Kategismus beskryf dit
in Sondag 33 as die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens.
Die ou mens moet uitgetrek word soos ’n vuil kledingstuk. Ons moet breek met die
sonde wat ons van God af wegtrek. Dit beteken nie dat ’n Christen nooit weer sondig
nie. Dit beteken dat ons nie meer vrede maak met ons sonde nie. Ons kry ’n hartlike
droefheid daaroor en vlug juis daarom na Christus.
Maar bekering is nie net om iets te los nie. Dit is ook om iets nuuts aan te trek. Paulus
sê: “Julle gees en gedagtes moet nuut word.” Die nuwe mens begin al hoe meer lyk
soos Christus.
Daarom word die nuwe lewe baie prakties. Lê die leuen af en praat die waarheid.
Moenie jou woede koester nie. Steel nie, maar werk en deel. Gebruik jou woorde om
ander op te bou. En wees goedgesind, teerhartig en vergewensgesind.
Dit is die lewe van iemand wat van die Nagmaaltafel af kom.
Die Nagmaal stuur ons dus nie terug na presies dieselfde lewe nie. Dit stuur ons die
wêreld in as nuwe mense – mense wat deur Christus verlos is, deur die Gees vernuwe
word en al hoe meer volgens God se wil wil leef.
Van die Nagmaaltafel af – die wêreld in. Met ’n ou mens wat sterf en ’n nuwe mens wat
leef.
Vrae:
1. Wat beteken dit dat die ware bekering uit die afsterwe van die oue en die opstanding
van die nuwe mens bestaan?
2. Waarom beteken sondebesef nie dat ons van God moet weghardloopnie, maar juis
dat ons na Christus moet vlug?
3. Noem twee voorbeelde uit Ef 4:25-32 van hoe die ‘nuwe mens’ se lewe in die praktyk
lyk?
4. Prakties: Watter sonde(s) moet jy in jou lewe ‘uittrek’ en voor God bely?
5. Wat behoort volgens hierdie gedeelte anders te wees aan die mens se lewe wanneer
hy van die Nagmaalstafel opgestaan het en die wêreld ingaan?