Prediker: Ds. Jan-Louis Lee | Kerk: GK Waterkloofrand | Datum: 20 September 2026 om 17:30 | ▶ Kyk op YouTube
Om vir 'n kind 'n naam te gee is vir mense 'n ernstige saak, maar die name wat ons dra,
verander selde ons wese. Met Jesus is dit anders. God Self het sy Seun daardie Naam
gegee met 'n goddelike opdrag opgesluit: Jesus beteken "Die Here red". Dit is 'n mini-
evangelie in een enkele Naam.
In Handelinge 4 staan Petrus en Johannes voor die Joodse Raad en bely hierdie Naam
sonder vrees. Dieselfde Petrus wat vantevore vir Jesus verloën het, spreek nou met die
vrymoedigheid van die Heilige Gees. Waarom? Omdat hy ontdek het dat Jesus nie net
simptome dokter nie, maar die wortel en tak van ons sonde finaal verwyder. Hy is ons
Enigste en Volkome Verlosser. Dit beteken dat alle menslike pogings om ons eie
saligheid te verdien — of dit nou deur goeie werke, eie vroomheid of menslike
verdienste is — 'n verloëning van sy volkome offer is.
Ons staan by 'n kruispad: of Jesus is vir ons alles, of Hy beteken vir ons niks. Daar is
geen derde moontlikheid nie. Vir die gelowige bring dit 'n diep, salige rus.
Ons hoef nie meer voor die toornige Regter te staan nie, maar voor die vriendelike
Vader, want die vloek van ons sonde is aan die kruis verbreek. Uit dankbaarheid leef
ons nou nie meer onder die heerskappy van die sonde nie, maar doen ons met erns en
blydskap die wil van God. Want daar is geen ander Naam onder die hemel gegee
waardeur ons gered moet word nie .