Lees Johannes 5:1-29
Teks: verse 11 en 14
MET DIE GEWER VAN DIE LEWE IN MY LEWE, IS MY LEWE VOL LEWE!
Dit dring moeilik tot ons deur dat daar lewe én lewe is.
Die gestremdes daar by die bad van Betesda se lewe was geen lewe nie. Daar was blindes, kreupeles en lammes. Hulle het gehoop om in die bad te kom as die water van die bad in beweging kom. Dit, so het hulle gehoop, sou vir hulle genesing gee. As hulle gesond is, so het hulle geglo, sou hulle nie meer vasgevang wees in ? lewe van wag en hoop nie – ? lewe wat geen lewe is nie. Jesus maak een van hierdie mense gesond. Hierdie man word egter gou deur die Gewer van die gesondheid met ? ander feit gekonfronteer. Jesus sê vir hom dat hierdie gesondwees wat hy nou geniet, op iets ergers as die lewe waarin hy vasgevang was, kan afstuur (vgl. v. 14). Dit kan afstuur op ? lewe wat regtig geen lewe is nie – ? bestaan binne die ewige dood. Mense wat dink dat dinge soos gesond wees, sukses behaal en gewild wees, die lewe is, begryp nog nie dat daar lewe én lewe is nie.
Jesus is die Gewer van die lewe én die lewe.
Toe Jesus aan die man daar tussen al die gestremdes vra of hy gesond wil word, is sy antwoord veelseggend. Hy sê dat hy “niemand” het om hom in die bad te sit nie. Sonder iemand kan hy nie losbreek uit die lewe wat geen lewe is nie. Voor hom staan egter Iemand wat aan hom die lewe kan gee wat hy vir sewe en dertig jaar van siekwees begeer het. Jesus gee aan hom hierdie lewe. Hy kan opstaan, sy goed optel en “aanhou rondloop”, soos Jesus gesê het hy moet doen. Maar as hy dan weggaan, is dit duidelik dat hierdie lewe wat hy ontvang het, al lewe is wat hy van hierdie Man verwag. Hy begryp nie dat Jesus die Gewer is van die lewe én die lewe nie (vgl. v. 21). Hy het “iemand” nodig gehad om te help om die lewe te kry. Hy vind Iemand groter wat Hom die lewe én die lewe kan gee, maar hy stel net belang in gesondwees. Is dit uit ons gebede en verwagtings duidelik dat ons Jesus ken as die Gewer van die lewe én die lewe?
Wanneer Hy in jou lewe is, is jou lewe vol lewe!
Daar is ? baie treffende verband tussen die opdrag wat Jesus aan die man by die Skaappoort gee en die opdrag wat Hy later aan die man by die tempel gee. In die opdragte wat Jesus by die Skaappoort gee, beklemtoon Hy dat die man, nadat hy opgestaan het en sy bed opgetel het, moet aanhou loop. Die genesing wat Jesus gee, gaan nie net ? rukkie duur en dan is die man weer terug in die lewe wat eintlik geen lewe is nie. In die opdrag later by die tempel waarsku Jesus die man dat hy nie moet aanhou sondig nie. Nou gaan dit oor die ander lewe wat Jesus gee. Wie deur Jesus uit die mag van die Bose en die dood gered is, sal nie aanhou sondig nie. As Hy aan jou die ware lewe gegee het, staan jy uit jou ou lewe op, neem jy die nuwe lewe op en lewe jy in daardie lewe. Jy kan nie soos die man by die Skaappoort gesê het, beweer dat jy “niemand” het nie. Hy wat die lewe gee, het in jou lewe gekom. Jy hét nou Iemand! Hou jy aan loop in hierdie nuwe lewe wat jy ontvang het of doen jy die onnatuurlike ding om genees te wees en tog terug te keer na ? lewe wat geen lewe is nie?