Skip to content
Menu

Lees 1 Timoteus 3:1-16
Teks: vers 15

GOD PLAAS SY HUISGESIN MET DIE WAARHEID IN DIE HEEL VOORSTE LINIE.

God plaas sy huisgesin in die heel voorste linie.

Die afgod Artemis van Efese is deur die hele wêreld hoog geëer en die mense van Efese het ʼn goddelose en losbandige lewe gevoer. In hierdie stad was Timoteus bedienaar van die Woord en het die gemeente van Efese geleef. Die gemeente, beklemtoon Paulus, is nie sommer maar een van die baie groeperings daar in Efese nie. Hulle is God se huis/huisgesin. Hulle is ten nouste verbind aan God. God onttrek dus nie sy mense en hou hulle weg van die wêreld nie. Hy plaas hulle in die heel voorste linie.

Dit is nie ʼn weerlose gesin wat in die voorste linie geplaas is nie

Die gemeente is egter nie ʼn weerlose gesin wat daar in die voorste linie as martelaars deur die vyand afgemaai sal word nie. Paulus beklemtoon dat God ‘n lewende God is. Die roem van Artemis was wêreldwyd erken, maar Artemis is ʼn dooie afgod en die God van die gemeente lewe. Die vyandigheid van die ongelowiges in Efese was intimiderend, maar die lewende God word nie geïntimideer nie. Die valse leraars wat die gemeente in Efese binnegedring het, was geslepe en gebruik goed-geformuleerde argumente, maar die lewende God sien deur al hulle planne. Hierdie lewende God het Hom aan die gemeente verbind. Die op-die-oog-af-weerlose huisgesin van God in Efese is die gemeente van die lewende God. God plaas nie sy gesin as weerlose mense in die voorste linie nie.

In die voorste linie gaan dit oor die dra en beskerming van die waarheid.

Wat doen die gesin van God in die voorste linie? Paulus sê die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. Die inhoud van hierdie waarheid gee Paulus in vers 16. Dit gaan oor God se oorwinningstog deur Jesus Christus en deur die Heilige Gees. Dit is ook die waarheid waarop die gemeente gebou is. In ʼn wêreld waar oortuigings voortdurend verander en wissel, plaas God sy huisgesin om draer te wees van die waarheid wat nie verander nie. Wanneer die huisgesin van God werklik draers is van die waarheid, word lede van die huisgesin self versterk deur die waarheid, maar word ook mense buite die huisgesin voor die waarheid gestel. Die gemeente is egter nie net draer van die waarheid nie, maar ook beskermer daarvan. Van binne en van buite was die aanslag op die waarheid daar in Efese groot, maar die gemeente van God moes beskermer wees van hierdie waarheid. Dit is duidelik: die lewende God se gemeente oorleef nie maar net in die heel voorste linie nie. Die gemeente is ʼn draer en ʼn beskermer van die waarheid. God se huisgesin deel in God se oorwinningstog in hierdie wêreld.