Skip to content
Menu

Lees Johannes 15:1-17
Teks: vers 12

DIE LIEFDE VAN CHRISTUS SE VOLGELINGE VIR MEKAAR IS VAN DIE VADER.

Inleiding:

Die werk van die Vader, die eenheid tussen die Vader en die Seun, die eenheid tussen die Seun en sy dissipels en die verantwoordelikheid van gelowiges, is alles deel van die rykdom van dit wat ons in Johannes 15:1-17 lees. Die gedeelte begin egter met die werk wat die Vader verrig en eindig die resultaat van hierdie arbeid, naamlik die liefde van Jesus se volgelinge vir mekaar (vgl. vv. 12 en 17).

Deur die arbeid van die Vader in sy wingerd het gelowiges mekaar lief.

Die Vader is volgens vers 1 en 2 die boer. Ons lees dat Hy sommige lote afsny en ander lote snoei. In vers 1 is daar egter indirek van ander werk wat die Vader verrig het, sprake. Jesus sê dat Hy die “ware” wingerdstok is. Die eerste wingerdstok was die volk Israel van die ou bedeling. Dié wingerdstok het nie lote en vrug gedra nie. Die Vader het egter ? nuwe Wingerdstok geplant: Jesus Christus. Hierdie Wingerdstok bring lote voort en wel lote wat vrug dra. Daar is net een rede hoekom hulle vrug dra: hulle noue verbintenis met die Wingerdstok. Wanneer die lewe van die Wingerdstok na die lote vloei, dra die lote vrug. En die vrug wat in hierdie gedeelte beklemtoon word, is die liefde van gelowiges vir mekaar. Deur die arbeid van die Vader het gelowiges mekaar lief. Hy het die ware Wingerdstok geplant wat die lote voortbring en aan hulle lewe gee. Hy doen ook die snoeiwerk. Die snoeiwerk van die Vader word in hierdie gedeelte beskryf as die woorde wat Jesus gesê het en wat in die gelowiges bly (vgl. tydsvorm van “gesê het”).

Dit is met insig in die Vader se werk dat gelowiges mekaar liefhet.

Die liefde van gelowiges vir mekaar, is nie die blote uitvoering van ? opdrag nie. Jesus sê vir sy dissipels dat Hy hulle nie slawe noem nie, maar sy vriende. ? Slaaf voer sonder begrip opdragte uit. ? Vriend is ingelig. Hy weet waaroor dit alles gaan. Jesus se volgelinge is ingelig. Hy het aan hulle bekend gemaak waarmee die Vader besig is – waarmee hy ook in my medegelowige se lewe besig is. As ? gelowige besig is om af te dwaal, sal ek dit sien in die konteks van die Vader se werk en sal daar byvoorbeeld ? liefdesdringendheid in my optrede wees. Met begrip sal ek liefhê as medegelowiges in hulle geloof stagneer, as hulle swaarkry, bly is of as my medegelowige my leed aandoen.

Dit is wanneer ek so met insig liefhet dat daar ? besondere soort blydskap in my is: Christus se blydskap (vgl. v. 11). Dit is ? blydskap van “werk van die Vader” wat in ons lewe voltooi word.

Ons liefde vir mekaar dra die stempel van die Vader se liefde.

Jesus trek in hierdie gedeelte ? lyn vanaf die Vader na Homself, van Homself na die gelowige en van die gelowiges na mekaar toe (vgl. v. 9a, en 12). Daarom sal die liefde van gelowiges vir mekaar die stempel dra van die Vader se liefde. Die uitstaande kenmerk van die Vader se liefde vir ons word sigbaar wanneer Christus sy lewe vir sondaars aflê. Wanneer gelowiges uit liefde groot offers vir mekaar bring soos tyd, kragte, geld, aandag ens. dra die hierdie liefde die stempel van die Vader se liefde in ons.