Lees Galasiërs 6:1-10 <- Klik om nou te lees Teks: vers 1 Geesgedrewe mense help gelowiges wat tot ʼn val kom. My omgee vir medegelowiges is ʼn merkteken van die Gees se werk. Die wyse waarop ʼn gemeente (en ʼn gelowige) omgaan met medegelowiges wat struikel, sê baie! Omgee vir medegelowiges wat struikel, is ʼn merkteken van die Gees se werk. Wanneer iemand egter koud en op ʼn afstand staan of alleen maar afkeur uitspreek wanneer iemand vasgevang word in sonde, ontstaan ernstige vrae oor die persoon se geloof. Paulus sê duidelik dat gelowiges wat deur die Gees gelei word, werklik sal omgee as iemand in een of ander sonde val. Die Gees leer my die “wet van Christus.” Paulus gee ook die rede waarom iemand wat deur die Gees gelei word, sal omgee. Hy praat van die uitvoering van die “wet van Christus.” In Galasiërs handel Paulus baie oor die “wet van Moses” en mense wat deur die wet van Moses hulle saligheid wou bekom. Dit is teen hierdie agtergrond dat ons Paulus se verwysing na “die wet van Christus” moet verstaan. Vir die mense wat die “wet van Moses” beklemtoon het, was die mens se eie werk op die voorgrond en is die uiterlike nakom van reëls belangrik. Deur na die “wet van Christus” te verwys, stel Paulus presies die teenoorgestelde op die voorgrond. Iemand wat deur Christus verlos is, word innerlik verander. Hy volg Christus na. Soos Christus nie liefdeloos by sondaars verbygestap het nie, sal dié mens in wie Christus se Gees woon ook nie liefdeloos ander pad kyk as ʼn medegelowige in sonde val nie. Soos Christus Homself verneder het en ter wille van sondaars mense geword het, sal sy ware volgelinge hulleself nie bo ander verhef nie en neersien op hulle wat afgedwaal het nie (vgl. v. 3). Verander deur die Gees sal hulle omgee vir mense wat tot ʼn val kom en so aan die “wet van Christus” uitvoering gee. Deur die Gees help ek die gelowige wat tot ʼn val gekom het, se las dra. Paulus dui duidelik aan hoe die gelowige hierdie “wet van Christus” uitleef wanneer ʼn ander gelowige struikel. Die Gees lei ons om: • onder die las wat die gevalle gelowige moet dra, in te kom en te help dra, • op volkome herstel gerig te wees, • die sondaar met begrip te help en • groot versigtigheid te openbaar wanneer so iemand help.