Lees: Lukas 24:44-53 Belydenis: NGB artikel 4 Teks: Hebreërs 1:1-4
GOD PRAAT DEUR SY SEUN JESUS CHRISTUS
1. Die Ou Testament (vers 1,2)
In die Ou Testament het die Here met sy volk deur profete gepraat. Baiekeer en op baie maniere het God dit gedoen. Maar nou het dit verander. Die volheid van die tyd het aangebreek en die Profeet van die laaste dae het gekom. Hy wie se profesie sal geld tot die eindtyd toe. Dit is Jesus Christus. Na Hom sal die Here nie weer profete stuur nie. God sal deur Hom, sy Seun, met sy volk praat.
2. Die Nuwe Testament (vers 3a)
Jesus Christus is die ware priester. Hy dra die heerlikheid van die Here en Hy en God is een in wese. Die priesters in die Ou Testament kon nie ’n volmaakte offer bring nie. Hulle was self sondige mense gewees. Maar Jesus Christus, as ware God en mens, is sondeloos. Daarom – het Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk. Hy vervul die Ou verbond en maak die nuwe van krag.
3. Die ewige Testament (vers 3b-4)
Daarna het Hy opgevaar na die hemel en sit Hy aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte. Daar heers Hy oor sy koninkryk as Koning. Dit sal Hy doen tot in ewigheid. Daar waar ons bid, bid ons tot die lewend God wat op hierdie oomblik oor ons regeer. Jesus Christus is die enigste weg na die ewige lewe.