Skip to content
Menu

Lees: Lukas 24:1-12; Jesaja 53:11-13; Kolossense 3:1-4;

Belydenis: HK Sondag 17

ONS KONING IN SY HEERLIKHEID

Elke Sondag in die kerk vier ons die opstanding van Jesus Christus. Ons vier dit as ’n heilige dag. Op Sondag môre het Jesus uit die dood opgestaan. Hoe dit gebeur het is noukeurig opgeskryf. Op hierdie dag begin die verhoging van ons Here Jesus Christus. Gely, gekruisig, gesterf, begrawe en neergedaal het na die hel. Die neerdalende lyn van die Verlossing bereik ’n einde. Godverlate het Jesus Christus die dood oorwin. Hy het vir die sondes betaal. Die duiwel is uit die hemel neergewerp. Sy verlossingswerk bereik ’n klimaks. Nou begin sy verhoging. Die stryd is gestry. Die triomftog begin. Vanuit die dood staan Hy op in heerlikheid.

SY OORWINNING IN HEERLIKHEID

Jesus Christus se opstanding is ’n oorwinning oor die dood. Dit is ’n bewys dat die bande van die dood gebreek is en dat daar weer lewe moontlik is. Die Woord getuig van die opstanding. Die vier evangeliste skryf van die leë graf as bewys daarvan. Paulus beskryf dit ook in 1 Korinthiërs 15. Daar noem hy aan wie Jesus almal verskyn het na sy opstanding. Jesus Christus het met sy opstanding die dood oorwin.

‘N NUWE LEWE IN HEERLIKHEID

Aan die begin het God net lewe geskep. In die paradys het Adam en Eva die ewige lewe gehad. Daar was nie dood nie. Hulle het liggaamlik en geestelik ten volle geleef. Sonder siekte, sonder einde. Deur die sondeval het dit verander. Toe het daar dood gekom. Hiervan red Jesus ons. Want deur Hom word die lewe weer herstel. Deur Hom kry ons nuwe lewe. Nie eendag nie, maar nou reeds hier op die aarde.

DIE WAARBORG VAN HEERLIKHEID

Op die jongste dag as die basuine klink, sal alle grafte geopen word, en alle liggame sal opstaan. Paulus skryf dit aan die gemeente in Thessaloniki – “Want die Here self sal met ‘n bevel, met die stem van ‘n aartsengel en met ‘n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” (1 Tessalonisense 4:16) Dit verseker die opstanding van Jesus Christus vir ons. In heerlikheid sal ons saam met Hom leef tot in ewigheid. Die wonder van die opstanding is groot.