Filippense 3:20-21
Psalm 87
‘20 Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser die Here Jesus Christus verwag.’
GOD GEE ONS HEMELSE BURGERSKAP
In Psalm 87 gaan dit oor burgerskap, maar nie oor burgerskap van ’n fisieke land nie. Hier gaan dit oor geestelike burgerskap. Die Koragiete sing ’n pragtige lied. ’n Lied waar genoem word dat mense gebore is, gebore in Sion. Hulle sing oor die stad van God, hulle sing oor die koninkryk van God. ’n Koninkryk vol met burgers. ’n Stad vol met burgers, mense, kinders. Die en die is daar gebore.
Burgers van die Godstad
In die Psalm word daar gesê: God se grondvesting is op heilige berge. God vestig Hom hier op aarde. Hy wil dit doen. Hy kies vir Hom ’n plek uit. Van die Godstad word heerlike dinge gesê: God se fondasies is in haar, God het haar poorte lief, God noem hierdie stad Sy eie. By hierdie gedagte moet ’n mens stilstaan. Op hierdie oomblik is ek liggaamlik, ’n Suid-Afrikaner, besig met my daaglikse werk en baie ander fisiese dinge. Maar terselfdertyd is ek geestelik, ’n Christen, ’n burger in die Godstad. Heilig, afgesonder vir God. Die geestelike moet die liggaamlike vorm gee. Jou geestelike burgerskap is ewig, jou liggaamlike burgerskap is tydelik.
Burgers van die wêreldstad
In Psalm 87 word ’n aantal volke genoem. Ons hoor dit in vers 4 – “Ek sal Rahab en Babel noem onder dié wat My erken; ook Filistea en Tirus saam met Kus onder dié wat daar gebore is.” Dit is interessant. ‘n Mens is geneig om te dink dat God in die Ou Testament, slegs die Israeliete uitverkies het. Dat slegs hulle kinders van God was. Nou blyk dit anders. God sê dat mense uit hierdie volke Hom ken. God het Hom gevestig in Sion, maar sy Godstad is ook ’n wêreldstad. Van oral oor die wêreld was daar mense wat God geken het, wat God erken het as die ware God. Die stad van God word nie beperk deur nasionaliteit nie.
Burgers van die vredestad
In vers 6 hoor ons dat God in ’n boek skryf. In die boek van die lewe skryf Hy op wie in Sion gebore is. Hy skryf op – Die name van al die burgers wat in die stad van God woon. God het ’n boek van Lewe, en daarin staan almal se name wat eendag saam met Hom in ewigheid sal lewe.
Gesprekspunte
- Wat beteken dit vir jou om hemelse burgerskap te hê?
- Wat leer die Here ons in die gedeelte oor ons omgang met mense van ander volke?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com