Skip to content
Menu

Lees Johannes 21:1-14

Teks: vers 13

Jesus versterk werklik sy volgelinge.

Inleiding: Soms word gesê dat Johannes 21 maar ʼn terloopse nagedagte is. Johannes se evangelie het reeds ʼn hoogtepunt bereik met Thomas se belydenis (20:28). Johannes het ook reeds die doel van sy skrywe bekend gemaak (20:30-31). Hierdie laaste gebeure waarvan ons in hoofstuk 21 lees, handel egter oor uiters noodsaaklike toerusting wat die Here aan sy volgelinge gee voor sy hemelvaart. Ná die gebeure by die see van Tiberias (21:1-14) het sy dissipels sekerheid dat Jesus sy dissipels werklik versterk.

Die versterking van Jesus is onmisbaar.

Jesus se dissipels het heerlike versekerings van Hom ontvang.  Hy het as Gekruisigde en as Oorwinnaar aan hulle sy “vrede” toegesê (vgl. 20:19, 21,26). Hy het hulle verseker dat hulle die Gees sal ontvang.  Hy het ook die onbeskryflike band aangedui tussen sy opdrag en hulle opdrag (vgl. 20:21) en daarmee aangedui hoe belangrik hulle opdrag is. Wanneer die dissipels – ervare vissermanne – die hele nag deur geen visse vang nie en Jesus hulle die oggend vroeg lei om te erken dat hulle geen visse gevang het en daarom niks het om te eet nie (vgl. vv. 3-4), leer Hy hulle om te begryp hoe onmisbaar sy versterking is vir mense wat Hom wil gehoorsaam. Toon ons beplanning vir die toekoms, die dinge waarop ons ons vertroue stel en ons verhouding met die Here dat ons weet hoe onmisbaar Jesus Christus se versterking is?

Jesus se versterking is werklik en dit is konkreet.

Die getal groot visse wat die dissipels vang nadat hulle na Jesus geluister het, word uitdruklik genoem. Voor hulle oë sien hulle 153 groot visse.  Dit is ook baie opmerklik dat die net nie geskeur het nie. Jesus se optrede is ook baie opmerklik.  Hy stap na hulle toe en gee vir hulle vis en brood. Jesus skerp sigbaar belangrike kennis by mense in voor wie ʼn grootse taak lê: Hy sál aan hulle versterking gee, Hy sal konkrete versterking gee en Hy sal dit altyd gee. Al sal Hy nie meer sigbaar by hulle teenwoordig wees nie, moet hulle in die uitvoer van hulle opdrag reken op sy versterking. As gelowige mág ek en móét ek reken op hierdie versterking deur die Here.

Waar Jesus versterk, skitter sy heerlikheid.

Reeds wanneer die visse getel word, die net nie skeur nie en die dissipels deur die Here gevoed word, skitter die Oorwinnaar, Jesus Christus se heerlikheid. Hierdie heerlikheid skitter egter nog helderder in die erkenning van Hom as Here. Let op die een wat vinniger as die ander verstaan en dan erken: “Dit is die Here” (v. 7a).  Let op die een wat vinniger as die ander doen en so vinnig as moontlik wil nader kom aan die Here  (vgl. 7b). Let ook op die insig van al sewe die dissipels wat Jesus nie bevraagteken nie. Hulle wéét. In die uitvoering van hulle opdrag sal hulle Jesus se heer-skappy laat skitter. Wanneer ek met die versterking van Jesus Christus my roeping uitleef, sal die erkenning van Hom as Here sigbaar wees – sal sy héér-likheid skitter.