Daniël 9:1-19
HK Sondag 51
‘My Heer, hoor tog! My Heer, vergewe tog! My Heer, gee tog aandag en tree op! Moenie talm nie, om u eie ontwil, my God, want u Naam is uitgeroep oor u stad en u volk.’
DIE GEBED IN DIE BOKAMER
‘Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.’
Sonder gebed kan die gelowige nie leef nie. Deur gebed kan ons met ons Vader praat. Alleen, as gesin, saam as gemeente. Ons bid gereeld. In ons gebede maak ons die naam van die Here groot. Ons bely ons skuld voor Hom. Ons dank Hom vir alles wat Hy vir ons gee. So het die Here Jesus ons in die Onse Vader geleer. Nadat die dissipels vir Hom gevra het – leer ons bid, het Hy dit vir hulle en ons gegee. In Daniël 9 hoof ons die gebed van die profeet in sy bokamer. Deur hierdie gebed spreek die Here jou gebedslewe direk aan. Ook hier leer Hy vir ons hoe om te bid. In besonder as dit gaan oor die vyfde bede waar dit handel oor skuldbelydenis en skuldvergewing. Dit sit jou weer aan die dink oor hierdie saak. Want hoe lyk jou gebedslewe? Is jy gedurigdeur in gesprek met die Here? Ook daar waar jy opstandig is en verkeerd optree.
Here hoor
Voordat ons kan bid en vra vir vergewing, moet ons eers hoor wat die Here vir ons sê. Gebed is antwoord. In sy bokamer was Daniel besig met sy persoonlike godsdiens. Hy het die boekrol van Jeremia bestudeer. Dit bring hom by gebed. Hy vra dat die Here sy beloftes sal vervul. Daniel bid vir die Here se saak. Dat die Here se wil sal geskied. In ons nood moet ons ook so bid.
Here vergeef
As die omstandighede sleg is, dan is ons nogal geneig om die vinger na ander mense te wys. Dit is nie hoe ‘n gelowige behoort om op te tree nie. Deur sy profeet toon die Here vir ons aan wat die houding van een van sy kinders behoort te wees. As gelowige moet jy weet dat jy deur die sonde nie beter as iemand anders is nie. Jy moet besef dat die grootste nood nie buite ons lê nie, maar binne ons. Ons het vergifnis nodig. Daarom leer ons Here Jesus ons bid – ‘Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.’
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com