Romeine 8:18-30
Dordtse Leerreëls 2:8,9
‘…en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.’
DIE RAADSPLAN VAN DIE HERE
Hoe red die Here iemand? Hoe gebeur dit dat iemand wat ongelowig is, wat glad nie die Here ken nie. Niks van Hom wil weet nie. ‘n Kind van God word? Hierdie vrae word in Romeine 8 beantwoord. Ook in die Dordtse Leerreëls bely ons hoe die Here te werk gaan. Hoe Hy van ‘n verlore sondaar ‘n gelowige kind maak. Hierdie proses word in die teologie die heilsorde genoem. Dit is die manier hoe God iemand red. Reeds voor die skepping het God uitverkies. Hulle wat Hy uitverkies het, in hulle werk Hy die geloof, Hy regverdig hulle, betaal vir hulle sondes en Hy bewaar hulle tot in ewigheid. Dit is die plan van God. Dit is sy raadsplan. Hierdie hele raadsplan is gegrond in Jesus Christus.\
Hy wat was (uitverkore)
God se raadsplan staan vas. Van die begin van die wêreld af tot vandag toe het daar nie iets aan verander nie. Soos wat God besluit het, so gebeur dit. Hy die Almagtige God is onveranderlik. ‘Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is…’
Hy wat is (regverdig)
Sy raadsplan is vir ons werklikheid vandag. Alreeds voor die grondlegging van die aarde het Hy besluit om sy uitverkore kinders te red. Dit is deel van sy raad. Paulus skryf daaroor in Romeine 8:30 – ‘die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.’
Hy wat kom (bewaar)
In die toekoms word God se raadsplan vervul. Die kerk sal staande bly tot in ewigheid. Soos wat Christus vir Petrus sê in Mattheus 16:18 – ‘Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.’ Dit omdat die kerk regeer word deur ons ewige Koning Jesus Christus. In Hom staan God se raadsplan vas. Hy wat is, wat was en wat kom.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com