Skip to content
Menu

Filippense 1:12-26 Handelinge 28:16-31

‘Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins…’

DIE GEHEIM VAN ’N CHRISTEN SE BESTAAN

In die gevangenis in Rome is Paulus hard aan die werk. As dienskneg van Jesus Christus, verkondig hy sy evangelie. Al sit hy vas in boeie, dit keer hom nie. Sy lewe staan in diens van Christus. In Filippense 1 beskryf Paulus hoe kosbaar dit is. Hoe ryk die lewe van ’n christen is. Hy het die evangelie daar vertel aan die Jode in die stad. Sommige het geglo, ander nie. Ook het hy geleentheid gekry om die keiserlike lyfwag te vertel. Belangrike manne in die samelewing. Hulle kom onder die geklank van die evangelie. Hy vertel vir hulle die kern van die evangelie. Net deur Jesus Christus, het jou lewe doel op die aarde. Hy is die Redder. Leef jy buite Hom, dan sterf jy eintlik maar ’n langsame hartseer dood. Doelloos is jou tyd op die aarde. Gemors aan eie gewin. Maar daar is soveel meer. Deur geloof word die rykdom van God oopgesluit. Dit sien ons in die lewe van Paulus. Vanuit sy ervaringe in Rome. Hy sê hoe kosbaar dit is om christen te wees. Hy kan vreesloos voortgaan. Hulle kan niks van hom vat nie. Vir hom is die lewe Christus en die sterwe wins.

Die lewe is Christus

Lewe word hier as werkwoord gebruik. Vir ’n christen is die lewe Christus. Wat jy doen, doen jy vir Hom. Die daaglikse praktyk van Paulus se bestaan, word daardeur bepaal. Waaraan hy dink in elke situasie, is Hom. Hy staan ten volle in sy diens. As jy besef wie Christus is en wat Hy gedoen het, dan leef jy ten volle tot eer van Hom. Jesus Christus – Hý is my lewe. Hý is die Een oor Wie alles wat ek is en dink en doen ten diepste gaan.

Die sterwe is wins

Waar Christus mense se lewe is, is die sterwe wins. Dit sê Paulus. Want vir ’n christen om te sterwe word die verganklike wêreld oorwin. Die sterwe van ’n christen is niks meer as net ’n deurgang na die ewige lewe toe nie. Sterwe is die punt agter die smet van die sonde waarin daar op die aarde geleef word. ’n Oorwinning!


GESPREKSPUNTE
1. Wat beteken dit vir jou dat jou lewe Christus is? Hoe getuig jou lewe daarvan?

2. ‘Aan die een kant verlang ek om heen te gaan en saam met Christus te wees.’ Het jy dit al so in jou lewe ervaar?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com