Jesus Christus – Lig in die duister

March 16, 2024

Summary

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Skriflesing: Johannes 11:1-16, 32-44       Teks: Johannes 11:11       Belydenis: HK Sondag 16     Sing: Ps. 92:1,6,7; Ps. 18:1,2,3; Ps. 31:3,4; Ps. 116:1,7,10.

‘Nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hulle: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

JESUS CHRISTUS: LIG IN DIE DUISTERNIS

Ons weet Christus het gesterf, maar hoekom moes Hy sterf? Toe Hy gesê het: Dit is volbring. Hoekom kon Hy toe nie direk opvaar hemel toe nie? Daarna is Hy begrawe. Hoekom moet Hy begrawe word? Ook is dit ‘n vraag, want iemand wat gekruisig is mog nie begrawe word nie. Nog ‘n vraag: Hoekom moet ons dan vandag nog sterf? As Christus al vir ons gesterf het, hoekom moet ons deur hierdie pynlike proses gaan? Ons belydenis stel aktuele vrae. Vrae wat aansluit by dit wat aan Jesus in Johannes 11 gevra word. Sake wat ons vandag nog direk raak – Dood, begrafnis, hel. Dit is vir ons realiteite. Dinge waaraan jy liewers nie dink nie. Sake wat jy sovêr moontlik probeer vermy. Want – dit doen pyn. Dit is hartseer. Maar aan die hand hiervan kry ons vanaand dieper insig in die werk van ons Redder. Want hoe hartseer hierdie sake is, bly dit ‘n realiteit. Geen mens kan daar verby nie. Die dood is vir elkeen seker. Ons mag hoor dat Christus die Lig deur die dood skyn.

Hy skyn deur die dood

Jesus Christus het gesterf. Sy laaste woorde aan die kruis: ‘Vader, in U hande gee Ek My gees oor.’ Deur sy sterwe het Hy die angel van die dood vir ons uitgehaal. Dood bly egter ‘n realiteit. Maar deur Christus is die dood van ‘n christen ‘n deurgang na die ewige lewe.

Hy verlig die graf

Josef van Arimathea en Nicodemus het Jesus neergelê in ‘n graf. Jesus se begrafnis dien as bewys dat Hy werklik gesterf het. Sy begrafnis spreek direk tot ons begrafnisse vandag. Want die graf van ‘n gelowige is ‘n rusplek. Die liggaam is nie onbelangrik nie. Soos saad word dit geplant sodat dit weer kan opstaan in heerlikheid op die die dag van die wederkoms.

Hy breek die bande van die hel

Aan die kruis het Jesus uitgeroep: ‘My God, My God, waarom het U My verlaat?’ Dit is neerdaal na die hel. Hel is om van God verlate te wees. Daar het Christus die toorn van God ten volle gedra. Hy het die bande van die dood gebreek. Daarom hoef ons dit vandag nie te vrees nie. Ons volg Christus oppad na hemelse heerlikheid.