Onderwys van Christus vir Sy kerk in haar oggendure

April 10, 2021

Summary

Johannes 21:1-19

daarop sê die dissipel, die een vir wie Jesus liefgehad het, vir Petrus: “Dit is die Here!”

ONDERWYS VAN CHRISTUS VIR SY KERK IN HAAR OGGENDURE

‘Ek gaan visvang.’ Petrus en ses ander dissipels is by die See van Tiberias. Hulle is terug In Galilea. Die plek waar hulle vandaan kom. Hulle is terug by hulle wortels. Nou hoor ons die woorde van Petrus – Ek gaan visvang – en die ander sê vir hom. Ons gaan ook saam met jou. Dan volg die verhaal van die wonderlike visvangs. Heelnag is daar nie vis nie. En dan is daar skielik ‘n man op die strand. Hy roep: ‘Gooi die visnet uit aan die regterkant van die boot’ Dit doen hulle. Op een slag vang hulle dan 153 visse. Vervolgens sien Johannes, die een vir wie Jesus liefgehad het, hy kyk en hy herken die man op die strand. ‘Dit is die Here!’ Terwyl hulle saam ontbyt eet gee Jesus vir hulle onderwys. Onderwys vir die jong kerk. Onderwys vir haar ampsdraers. Hulle moet reg wees vir wat voorlê.

Gooi die net uit

Die geskiedenis hier loop parallel met Lukas 5. Die dissipels is in die boot. Eers vang hulle niks nie, maar met Jesus se hulp is daar ‘n groot opbrengs. Toe Jesus die eerste keer die dissipels geroep het, het Hy gesê: ‘Volg My en ek sal julle vissers van mense maak.’ In die lig hiervan hoor ons die onderwys van Jesus. Want visvang is koninkrykstaal. Dit behels dat daar van die een koninkryk na die ander oorgegaan word. In Mattheus 5 sê Jesus dat ons die lig van die wêreld moet wees soos ‘n stad op ‘n berg. As ons ‘n christengemeenskap hier in Pretoria is, is ons ‘n alternatiewe Pretoria. Mense moet kan sien die koninkryk van God is hier gevestig. Die net word uitgegooi, want dit is hoe die Here mense deel maak van sy ryk.

Laat My lammers wei

Jesus roep ons om ‘n gemeenskap rondom Hom as Koning te vorm, maar Hy maak ook bekend waar ons telkens weer tekort kom. Dit sien ons in die gesprek met Petrus. Drie keer vrae Hy hom – “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle?” Petrus weet dat Hy te kort kom. Nou spreek die Here tot sy hart – persoonlik, direk, konfronterend en doelgerig. Dit is die vertrekpunt om herder te wees oor die skape van die Here. Die Here soek jou hart. As daar nie liefde is nie, kan die opdrag nie reg uitgevoer word nie.

Volg My

Jesus maak bekend watter soort dood Petrus sou sterf. Dit sal pynlik wees. Petrus het uiteindelik as martelaar gesterf. Hier hoor ons ook die onderwys vir die kerk. In lewe en in sterwe kry ons die opdrag van Christus: Volg My!

Gesprekspunte

  1. Hoe word die opdragte van Jesus vandag deur ons as sy gemeente plaaslik uitgevoer?
  2. Wat sal jou antwoord op die vraag van die Here Jesus uit die gedeelte wees: het jy My baie lief?”
Ds. Gerben Meijer meijer.gp@gmail.com

Bible References

  • John 21:1 - 19