Op die inisiatief van ons gemeente is die nie-winsgewende maatskappy Docenda gestig. Die Noordwes Universiteit, GKSA Kuratore, die Senaat van die Teologiese Skool Potchefstroom en Gereformeerdes uit die sakesektor het vir dié maatskappy ‘n spesifieke getal direkteure benoem. Die maatskappy beoog om
– eerstens via die moderne tegnologie teologiese studente (veral uit kerke waar leke-predikers werk) vanuit Potchefstroom by leersentra (kerkgeboue) regoor SA en Namibië op te lei;
– tweedens, om saam met die opleiding wat verskaf word, gemeenskappe op te hef (geestelik sowel as finansieel);
– derdens, om aan Gereformeerdes op ‘n praktiese vlak geleentheid te bied om hulle roeping uit te voer om die evangelie uit te dra en mense te lei tot gehoorsaamheid aan God.
Om hierdie doelwitte te verwerklik het 3 afgevaardigdes van Docenda (Prof Dries du Plooy, Dr Douw Breed en br Ettiene du Toit) op uitnodiging van dr Callie Opperman Windhoek laasweek (7 en 8 Augustus) Windhoek toe gegaan om met predikante en sakelui uit die Gereformeerde Kerke van Namibië te ontmoet. Die besoek was baie suksesvol en het gelei tot die totstandkoming van ‘n loodskomitee om samewerking tussen die gemeentes en sakelui van Namibië met Docenda te koördineer. Dit is duidelik dat daar ‘n baie groot behoefte in Namibië is aan die opleiding wat moontlik is via die infrastruktuur wat Docenda daar wil stel.Docenda voorsien dat die bande wat tydens hierdie besoek gesmee is, lang termyn vrugte sal werp vir die Koninkryk.