Skip to content
Menu

 

Fokustyd 2016

Inhoudsopgawe

Inleiding (Deputate Kerkgroei)

Voorwoord deur dr Douw

Die fokustydformaat

Week 1 Bekeer. (29/8/2016 – 4/09/2016)

Gedagtes oor die week se tema en dagstukkies

Week 2 Gebed (05/9/2016 – 11/09/2016)

Gedagtes oor die week se tema en dagstukkies

Week 3 Groei (12/09/2016 – 18/09/2016)

Gedagtes oor die week se tema en dagstukkies

Week 4 Roeping en Inrig (19/09/2016 – 25/09/2016)

Gedagtes oor die week se tema en dagstukkies

 

Groep-bybelstudies

Tema: Bekeer (Week 1: 29/8/2016 – 4/09/2016)

Tema: Gebed (Week 2: 05/9/2016 – 11/09/2016)

Tema: Groei (Week 3: 12/09/2016 – 18/09/2016)

Tema: Roeping – Inrig (Week 4: 19/09/2016 – 25/09/2016)

 

 

 

Die fokustydformaat

‘n Vergrootglas word gebruik om op die detail van iets te fokus. Hierdie boekie en die formaat is soos ‘n vergrootglas. Dit help die gemeente om saam te fokus op die onderwerp van God se doel met sy kerk en die roeping en groei van sy kerk. Die formaat wat ons sal gebruik, kan die ‘fokustyd’ formaat genoem word.

 

Hierdie fokus tyd pas in 4 weke. Elke week fokus ons op ‘n ander onderwerp. Elke onderwerp word verken op drie maniere: ‘n preek (waarvan die teks telkens die vorige week deur dr. Douw bekend gemaak sal word), daaglikse oordenkings vir tuisgebruik en ‘n groepstudie. Vooraf sal dr. Douw in 3 preke aandag gee die onderwerp Soli Dio Gloria.

 

Die 4 onderwerpe wat ons sal ondersoek is: bekering, gebed, groei, en roeping – inrig.

 


 

Inleiding (Deputate Kerkgroei)

“Ja,” was die energieke en eenparige antwoord in 2012 toe ons as kerke die vraag gevra het: Moet ons iets aan die swak toestand van ons kerke en ons getuienis in ons gemeenskappe doen?

Op daardie oomblik het die lewende God in Sy oneindige genade ons gelei met Sy eie hand.

Hy het ons verskriklike swakheid en sonde vir ons gewys, maar ook Sy eindelose genade, sodat ons onsself kan bekeer in die vertroue dat Hy ons sal lei op die pad van Semper Reformanda. Altyd hervorm en die herbelyn volgens Sy Woord en werk in die wêreld.

Hierdie besluit het ons in beweging gebring om ons situasie te bestudeer en te verstaan en om biddend die pad wat ons moet neem te onderskei. Toe die resultate van hierdie studie aan ons kerke as die pad vorentoe in 2015, voorgestel is, was die antwoord weer eens: “Ja!”

Dit alles het gelei tot hierdie boekie wat jy in jou hande het. Die doel van hierdie boekie is om alles wat gedoen is gedurende die proses tot reg in die harte en gedagtes van elke lidmaat en elke plaaslike kerk te bring. Daar is geen kerk daar buite iewers vir wie hierdie boekie nie is nie. Die kerk is ek en jy. Die proses is vir ons. Ons gedagtes, ons harte en ons hande as die liggaam van Christus self en die tempel van die Heilige Gees in hierdie wêreld.

Mag jy hierdeur werk en bid met ‘n oop hart. Bereid om berouvol te bekeer waar nodig en vol geloofsvertroue in die evangelie dat die opgestane Here, Jesus Christus, jou sal lei en vorm deur sy Woord en Gees.

Griffel van Wyk

Kerkgroeibediening Deputate

2015

 


 

Voorwoord deur dr Douw

Geliefdes, kom ons fokus en doen wat ons bely. Kom ons fokus en word meer en meer wat ons in Christus is!

 

WIE ONS IS:

Ons glo en bely ‘n enige, … algemene kerk, ‘n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo; wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is ‘n ewige Koning wat nooit sonder onderdane kan wees nie (NGB art. 27).

Geen afsydigheid nie

Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ‘n versameling is van hulle wat verlos word, en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand, wat sy stand en status ook al is, in selftevredenheid hom van hierdie vergadering afsydig mag hou nie (NGB art 28).

Nee, eerder een liggaam …

Inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar, deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam…

en onderwerping aan Christus …

– aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig

asook my gawes tot diens.

en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die [medegelowiges] in die opbou van hulle geloof te dien (NGB art 28).

 

JY KAN ONS UITKEN:

Kyk vir die kenmerke van ‘n Christen:                                                                               Lidmate van die ware kerk, kan jy uitken aan die kenmerke van die Christene:

Jesus Christus aangeneem

naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser, Jesus Christus, aangeneem het, Sonde, geregtigheid, liefde, sondige natuur                                                  

en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste lief het, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig.

Toevlug tot Christus                                                                                          

Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie. Inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het (NGB art. 29)

 

 

Week 1: Bekeer.

 

Gedagtes oor die week se tema.

Noudat daar die afgelope Sondae in die prediking beklemtoon is dat ons met ons hele lewe op God se wil en sy verheerliking gerig moet wees, is dit hopelik vir jou duidelik dat jy dikwels op jou eie missie is vir jou eie eer of behoud sonder Jesus. Daar is dus waarskynlik dinge waarvan jy jouself moet bekeer, maar bekering is glibberig.

 

Ons harte is so misleidend en selfregverdigend dat dit vir ons baie moeilik is om ons werklike sondes te sien, maar tog baie maklik om dié van ander te sien. Jy hou waarskynlik nie op die oomblik daarvan om te hoor dat jy moontlik jouself van iets moet bekeer nie. Ons is bang vir eerlike selfondersoek, om dan ons vuil gemors te sien en op te kyk in die veroordelende oë van God. Ons is bang om ons lewens te verloor.

 

Maar hierin lê die skoonheid van die evangelie. As ons opkyk na God in eerlike belydenis … sien ons eerder die barmhartige oë van God as gevolg van Christus se voldoende werk op die kruis. Dan eers begin jy iets te lewe wat baie meer vervullend is as waarop jy jouself op spandeer het tot nou toe. (HK Son. 33)

 

Ondersoek jou hart eerlik, bid vir duidelikheid oor jou sonde, bring jou selfgesentreerdheid na die lig van die kruis en ontdek die oorweldigende vreugde van nuwe lewe vir God in die lig van die evangelie.

 

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 1: Bekeer

Dagstukkie 1/1 Maandag 29 Augustus 2016
Onderwerp Kry jou vreugde in die Woord: Christus!
Lees

 

 

·        Psalm 1 (OAV)

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Waar soek die skrywer nie sy vreugde nie? v1

·        Waar soek hy eerder sy vreugde?

·        Wat is die effek hiervan in sy lewe?

·        Wie is die Woord van God (Johannes 1)?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Om ʼn persoonlike band met God te hê en te groei in jou kennis van Hom gee vreugde, is lewensverrykend en lewer vrugte. Veral as hierdie kennis nie bloot meer feite is nie, maar hartverwarmende vreugde-waarhede oor sy ryk geregtigheid en genade vir jou in Christus. Groei jy in hierdie tipe kennis van God en van Sy doel vir die skepping en jou lewe? Wat het jy nodig om te bely in die lig van Psalm 1? Bid hieroor.

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 1: Bekeer

Dagstukkie1/2 Dinsdag 30 Augustus 2016
Onderwerp Wie is die baas?

 

 

Lees

 

 

·        1 Petrus 2: 1-10

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wat vra (eis) die opdrag in v 1-3 van jou as gelowige (in reaksie op die blye boodskap van verlossing in 1 Petrus 1)?

·        Waarom is die oproep in vers 4,5 ‘n oplossing hiervoor?

·        Wat is die doel van die kerk? v9-10

·        Is jy lidmaat van die kerk om God te dien, of is jy dalk lidmaat wat eintlik verwag God moet jóú belange dien?

·        Het jy dalk ‘n verkeerde siening van die kerk waarvan jy jou moet bekeer?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Baie mense ervaar onvergenoegdheid met die kerk. Hulle is ontevrede met die gemeente-lewe en hulle verhoudings met ander gelowiges omdat hulle vergeet het waarvoor die kerk daar is. As jy kerk sien as ʼn plek vir ‘kry’, sal jy altyd ontevrede wees met wat jy kry. As jy dit sien as ʼn plek om raakgesien en bewonder te word, sal jy net gefrustreerd wees. As jy die kerk sien as ‘n plek om jou eie belang te dien, sal jy nooit die vreugde ontdek om vir God te werk nie. Waar struikel jy in jou kerklewe en van watter gesindheid moet jy jouself bekeer? Bid hieroor.

 

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 1: Bekeer

Dagstukkie 1/3

 

Woensdag 31 Augustus 2016
 

Onderwerp

 

Outomatiese of persoonlike geloof?

 

 

Lees

 

 

·        Romeine 10: 1-17

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Waarom is dit belangrik om kennis te neem van die manier waarop God gekies het om sy volk te red?

·        As God ‘n verbond gehad het met Israel, hoekom word hulle dan nie outomaties gered nie?

·        Wat is dan nodig vir redding?

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Om as ‘n baba gedoop te wees, waarborg nie outomaties redding nie. Ook nie eens die memorisering van baie Bybelverse of die blote deelneem aan belydenisaflegging nie. Wat red, is bekering van jou persoonlike sonde (1 Pet 2:1) en ‘n lewende vertroue in die werk van die Here Jesus Christus op so ‘n manier dat dit lei tot ‘n lewe wat vrug dra. Hoe effens ook al. Dit kan nou goeie nuus wees vir jou, wees dan vrolik! … Of dit is dalk iets wat jou diep laat nadink oor persoonlike bekering en jou gebrek aan vertroue in die Here Jesus en vrug in jou lewe. Bid hieroor.

Verdere leeswerk: Matt 25: 31-46; Jak 2: 14-26; HK Son 23 V&A 60; HK 31 V&A 84

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 1: Bekeer

Dagstukkie 1/4 Donderdag 1 September 2016
Onderwerp ·        Sit jy terug?

 

Lees

 

 

·        Romeine 12: 1-8

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Op grond waarvan is jy geroep om jouself te gee as ʼn offer vir dienswerk?

·        Hoe sentraal is hierdie daad van “jouself offer” in jou lewe? (v1c)

·        Sou jy sê jy het gawes om die res van die liggaam mee te dien?

·        As elke lidmaat betrokke is in hierdie bedienings, wat moet die ouderlinge en diakens dan doen? (Ef. 4:12)

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Jy is nodig om die kerk, wat een liggaam is in Christus, te help opbou. As jy nie werklik daar is nie, is jou kerk minder effektief as wat dit kan wees om jou liefdevolle God te verheerlik. Die kern van jou lewe-offer aan God is afwesig. Net jy kan weet of jou verskonings omdat jy die bediening verbruik eerder as om daartoe by te dra, geldig is. Jou predikant, ouderlinge en diakens moet ook daartoe meewerk, en nie bloot probeer om alles self te doen nie. Ondersoek jou hart of jy nodig het om jouself van iets te bekeer en bid nou daaroor.

Verdere leeswerk: 1 Kor. 12; 1 Pet 4:10; NGB Art 28; HK Son 21 V&A 55

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 1: Bekeer

Dagstukkie 1/5 Vrydag 2 September 2016
Onderwerp Vyandliefde

 

Lees

 

 

·        Matt 5: 43-48

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wie sou jy sê is jou vyande?

·        Wat sal jy wees wanneer jy aan jou vyande liefde bewys (v45)

·        Diskrimineer God as Hy algemene genade(bv. reën) uitdeel?

·        Is dit dwaas om te dink die vyande sal verander wanneer ons hulle nie die liefde gee wat hulle kortkom nie?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ons is vinnig om verkeerde dinge uit te wys in die mense of situasies waarvan ons nie hou nie. Ons versamel redes waarom ons hulle mag vermy of selfs met hulle mag lelik maak: Hulle maak ons seer; Hulle het self verkeerde besluite geneem; Hulle behandel ons onregverdig. Hoeveel redes sou God hê om jou te vermy? Miskien het jy ʼn liefdelose houding teenoor ander. Maar God het ‘n ander houding teenoor jou. Waar kan jy Hom beter hierin navolg as sy kind? Bid hieroor.

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 1: Bekeer

Dagstukkie 1/6 Saterdag 3 September 2016
Onderwerp ·        Vergifnis van sondes is nie goedkeuring van sondes nie.

 

Lees

 

 

·        Matt 5: 17-20

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wat is die volle doel van die wet van God? Lees Rom. 7: 7-11; 10:. 4; HK Son 44 V&A 114.

·        Hoe sterk voel Jesus hieroor?

·        Wat was die fout wat die Fariseërs met die wet gemaak het?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Elkeen moet maar self besluit wat waar is. Om ander se gedrag te beoordeel, is nie verdraagsaam nie. Dít is hoe die wêreld gekies het om sonde te hanteer. Giftige sonde word gerespekteer as alternatiewe maniere waarop mense blydskap en troos vind. Jesus hanteer sonde op ʼn baie meer liefdevolle manier. Die volmaakte wet wys eerder soos ʼn spieël ons aaklige toestand vir ons en ons desperate behoefte aan ware troos. Dít veroorsaak dat ons na die skoonheid van Christus se offer hardloop (Rom. 10: 4). Om die wet na te kom vir redding is nie genoeg nie, om die flikkerende pyle daarvan na Christus te volg, is meer as wat die Fariseërs gedoen het. Maar … geen wet … geen sonde nie. Geen sonde … geen behoefte vir Christus. Geen Christus … geen verlossing. Geen redding … geen ware vrede. Christus bring vergifnis en verlossing van sonde, nie die goedkeuring van sonde nie. Watter sonde het jy om mee te breek en dan eerder na Christus te hardloop vir ware vervulling? Bid hieroor.

 

 

 

 

 

Week 2: Gebed

 

Gedagtes oor die week se tema.

Gesprek is nodig vir enige verhouding om te groei. Ook vir ons verhouding met God. ‘n Egpaar wat nie met mekaar praat nie, sal ‘n swak en verbrokkelende verhouding hê. Ons hoor God in Sy Woord en om tot God te bid is om terug te kommunikeer. Gebed is daarom om God self teë te kom. Gebed is nie net om God vir dinge te vra nie.

Ons sien selfs hoe Jesus gereeld weg van die skare tyd alleen spandeer saam met Sy Vader in gebed. Miskien is dit die beginpunt vir ons in die herstel van ons gebedslewe. Om doelbewus tyd alleen te spandeer sonder selfone, tv’s, radio’s, musiek of ander mense. Bid hardop, dit kan jou help om jou aandag te fokus. Hou ‘n gebedslys. Bid saam met ander.

Iemand het eenkeer gesê: “Ons behoort die verstomming te ken om sy heerlik te prys, die teerheid te beleef as ons sy genade weer sien, en die stryd om afhanklik sy hulp te vra – al hierdie dinge kan daartoe lei dat ons die werklikheid van sy teenwoordigheid ken.”

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 2: Gebed

Dagstukkie 2/1 Maandag 5 September 2016
Onderwerp Ons Vader, brood, vergewe en beskerming

 

Lees

 

 

·        Lukas 11: 1-4

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Waarom dink jy leer Jesus ons om ‘ons‘ Vader te bid en nie ‘my’ Vader nie?

·        Hoe is brood, vergifnis en beskerming ʼn “ons” saak?

 

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Meestal dink ons oor gebed as iets tussen my en God – individueel. Jesus leer ons dat ek nooit geïsoleer is nie, selfs nie as ek op my eie bid nie. Ook die antwoorde op my gebede is nie geïsoleer nie. Ek is deel van ‘n geloofsgemeenskap. Saam op soek na Hom en Sy heerlikheid en saam ontvang ons om te deel en saam te dien. Is jou gebede en geloofslewe net ‘n “ek” en “my” of ‘n “ons“?

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 2: Gebed

Dagstukkie 2/2 Dinsdag 6 September 2016
Onderwerp

Na die gebed?

 

 

Lees

 

 

·        Lukas 11: 5-13

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Watter drie kort gelykenisse vertel Jesus as deel van sy les oor gebed?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Wat gedoen na jy gebid het? Die kort gelykenis oor die buurman leer dat na gebed … ons weer moet bid! Om nie jou trots in die pad te laat staan van volhardende en nederige gebed in uiterste afhanklikheid nie. Daarna moet ons opstaan en voortgaan om die probleem aan te pak: Vra eers rond vir oplossings of advies, tweedens beweeg aktief rond op soek na wat gedoen kan word en klop laastens by die deure wat oopgemaak kan word. Vra, soek, klop. Werk aan die oplossing! Maar wat as daar steeds niks gebeur nie? Rus met vertroue in jou Vader se goedheid: dat Hy nie aan jou skadelike dinge sal gee wat van jou kant gesien fantasties lyk nie.

 

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 2: Gebed

Dagstukkie 2/3 Woensdag 7 September 2016
Onderwerp Gebed en wêreldsheid

 

Lees

 

 

·        Jak 4: 1-10

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wat sou jy sê is die invloed van ‘die wêreld’ op jou gebedslewe?

·        Wat is die gewaarborgde manier om nie antwoorde op jou gebede te kry nie?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

God en die wêreld beweeg nie in dieselfde rigting nie. En jy kan ook nie in albei rigtings bid nie. ‘n Verdeelde hart tussen God en die wêreld lei tot selfsugtige gebede. Selfsugtige gebede lei tot onbeantwoorde gebed. Dit lei daartoe dat ek uiteindelik self die stryd opneem om te kry wat ek eintlik wil hê as seën: die dinge van God en nie God opsig self nie. Maar wanneer ek nederig my hele wese aan God onderwerp en die versoekings om my hart te verdeel weerstaan, sal Satan vlug en my Here sal my oplig uit die verwarring!

 

 

 

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 2: Gebed

Dagstukkie 2/4 Donderdag 8 September 2016
Onderwerp ·        Smeking en dank verseker vrede

 

Lees

 

 

·        Fil. 4: 6-9

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Waarom is dit in jou gebed belangrik om vrymoedig te smeek, maar ook om sy seëninge te erken?

·        Wat beteken dit dat Christus wag sal hou oor jou hart en verstand?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Daar sal altyd redes wees vir kommer. Maar daar is ook altyd dinge om voor dankbaar te wees. Ons het die Here dringend nodig, maar ons het ook reeds sy seën op baie ander maniere. Om beide in my gebede te noem, help my om te besef dat Hy reeds aktief is in my lewe. Hy ken my behoeftes en weet wat vir my goed is. Dit blus die vuur van angs. Ek kan rus in die feit dat die genade van Christus voldoende is elke keer wanneer my hart en gedagtes weer met my wil weghardloop. Hy hoor my bid, Hy het my ook reeds geseën met baie ander dinge … en meer as dit, Hy het my verlos om sy eie te wees! …Vrede!

 

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 2: Gebed

Dagstukkie 2/5 Vrydag 9 September 2016
Onderwerp Volharding in uitreikgebed.

 

Lees

 

 

·        Kol 4: 2-6

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Tot watter tipe gebedslewe roep vers 2 jou?

·        Hoe bid jy vir evangelisasie? (v3)

·        Hoe word jou gesindheid in gebed oorgedra in jou lewe in?

 

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gebed is harde werk. Dit is soos om ‘n hoë berg te klim. Een voet voor die ander. Dit is hoekom jy aangemoedig word om waaksaam te bly… want dit is so maklik om op te gee. Die ander ding wat sal help, is om ook te bid met danksegging waar die Here reeds geantwoord het. Dit versterk weer jou hart vir meer gebed. Jy kan selfs bid vir geleenthede om die evangelie duidelik te deel, deur jouself of deur ander. Maar gebed vorm ook die hart waarmee ek my lewe tegemoet gaan. Bid, maar moenie net bid nie… gebruik in geloofsvertroue die geleenthede wat die Here dan vir jou gee…

 

 

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 2: Gebed

Dagstukkie 2/6 Saterdag 10 September 2016
Onderwerp Intieme fokus van gebed

 

Lees

 

 

·        Matt 6: 5-8

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wat is die twee strikke waarin ‘n mens kan trap in jou gebed?

·        Waarom is gebed eerstens tussen jou en die Here?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Selfs die teerste dinge kan deur ons sondige harte besmet word. Met ‘n hart wat nie in die evangelie rus nie, kan selfs gebed misbruik word om jouself te verheerlik. Jy kan selfs hardop bid vir die heerlikheid van God, terwyl jy eintlik op soek is na jou eie eer soos wat jy deur ander gesien en gehoor word! Sien eerder die teer intimiteit van gebed raak. Jy mag gerus in die openbaar of saam met ander mense bid soos ons ook op ander plekke in die Bybel sien. Maar is jy besig met jou hart voor God, of jou beeld voor mense? Die ander lokval is om God met baie woorde te probeer oorreed om vir my te gee wat ek nodig, eerder as om my hart in eenvoud te deel terwyl ek vertrou dat Hy goed is en sy antwoord die beste. Hier ontdek ons dat jou benadering tot gebed belangrik is… Hoe benader jy jou gebede?

 

 

 

 

 

 

 

Week 3: Groei

 

Gedagtes oor die week se tema.

Om die liggaam van Christus te laat groei moet begin word met die groei van die individuele lede van die liggaam in Christus. Dit is nie ‘n stelsel wat moet groei nie. Mense moet groei gewortel in Christus (Kol 2: 7). Jy het nodig om te groei.

Waarin moet jy groei? Liefde wat spruit uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof (1 Tim 1: 5). Ons gedagtes, harte, gesindhede en dade moet gevorm word tot die beeld van Christus deur die werk van God se Woord en Gees. Dit is waaroor die opdrag van Jesus gaan om sy dissipels (vakleerlinge) te word. Mense op God wat ingestel is op God se eer en wat Jesus se pad en manier navolg. Mense wat na Jesus luister en in praktiese geloof alles oefen wat hulle geleer het.

Langs hierdie pad van individuele groei en gehoorsaamheid aan Christus in my keuses en prioriteite, gebruik Hy my ook om ander weer dissipels van Hom te maak.

Dit lei daartoe dat kerke groei: in diepte, in gesondheid en met God se seën in getalle. Dít als dra by tot die heerlikheid van God, wat in staat is om dooie selfsugtige sondaars soos ek nuwe lewens te gee in diens van Christus (Ef. 2: 1 + 10).

 

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 3: Groei

Dagstukkie 3/1 Maandag 12 September 2016
Onderwerp

Bly in Jesus!

 

 

 

Lees

 

 

·        Johannes 15: 1-8

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wat beteken dit om in Jesus te ‘bly’?

·        Hoe help dit jou groei en vrugte dra?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Groei en vrug kom net in jou lewe wanneer jy jou fokus en aandag hou op Jesus en sy voltooide werk aan die kruis. Die goeie nuus oor wie Jesus is en wat Hy gedoen het, is soos lewegewende sap wat voortdurend deur die takke moet vloei. Hierdie “inwoon in Jesus” maak dit vir ons moontlik om te groei en die mense rondom ons met nuttige vrugte te dien. Is daar ander aktiwiteite waarmee jy besig is met die hoop dat dit jou hart en lewe sal vernuwe? Hoe kan jy herfokus om in Christus te bly?

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 3: Groei

Dagstukkie 3/2 Dinsdag 13 September 2016
Onderwerp

God se bestemming met jou

 

 

 

Lees

 

 

·        Romeine 8: 28-30

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Waarop is God gerig met jou as Sy dissipel?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Baie dinge wat met ons in ons lewens gebeur voel soos struikelblokke in ons vordering. Terugslae, ongelukke of pyn wat deur ander veroorsaak word. Maar hier word jy daaraan herinner dat God sy doel met jou sál bereik: Hy vorm en slyp ons gedurig tot mense wat na Christus lyk. Dit is waarheen dissipels van Christus op pad is. En God beloof hier om selfs die pynlike dinge van die lewe te gebruik om jou daar te kry. Aan watter aspek van jou gedagtes, gesindheid of gedrag is God dalk op die oomblik aan die werk? Werk jy saam?

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 3: Groei

Dagstukkie 3/3 Woensdag 14 September 2016
Onderwerp

Groei verg moeite!

 

 

 

Lees

 

 

·        2 Petrus 1: 3-11

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wat moet nog vir jou ‘afgelewer’ word om te kan groei? (v3-4)

·        Wat ontvang gelowiges volgens v8 as hul met ywer hul geloof verryk?

·        Wat word volgens vers 9 duidelik van mense wat nie hulle geloof met ywer verryk nie?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Party gelowiges dink soms dat geloofsgroei en ‘n veranderde lewe ‘n outomatiese proses is soos oud-word. Jy moet net lank genoeg asemhaal en dan verbeter jy vanself. Dit is glad nie waar nie – al het God reeds elke bestanddeel wat jy kan benodig verskaf! Ons moet hard werk met wat Hy reeds voorsien het. Hier vind ons ‘n lys van hierdie bestanddele. Hulle moet gebruik word om mekaar te verryk. Werk aan die een veroorsaak die ander om te verbeter. Gaan dink mooi oor die invloed van elkeen op die ander. Sien ook dat al hierdie dinge begin steeds op die fondament van God se onvoorwaardelike liefde (agape) vir alle mense – gewortel in die evangelie. Om hiermee besig te wees lei daartoe dat jy meer vrug dra en Jesus Christus ook beter sal leer ken.

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 3: Groei

Dagstukkie 3/4 Donderdag 15 September 2016
Onderwerp

Jesus lei jou na ander mense toe

 

 

Lees

 

 

·        Joh. 20:21 & Matt 28: 18-20

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Watter opdrag ontvang elke dissipel van Jesus?

·        Wat beteken Jesus se beloftes hier vir jou wanneer jy sy opdrag in Joh. 20:21 en 28:18-20 moet uitvoer?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ons deel in dieselfde missie as Jesus. Wanneer ons uiteindelik begin om soos Hy te lyk – bevry van ons selfsugtige begeertes en self-gerigtheid… sal ons liefdevol betrokke kan wees in die lewens van ander. Christus sal jou lei om betrokke te raak in die lewens van die mense om jou. Jy kan dan dieselfde rol in hulle lewens speel as wat ander gelowiges gespeel het in jou geestelike ontwikkeling. Dit kan mense wees met wie jy reeds verhoudings het, of ‘n buurman wat jy nog nie so goed ken nie. As dissipel… moet jy uiteindelik ander ook dissipels maak en hulle help om by die familie van God aan te sluit. Bid dat God jou sal wys en lei waar jy liefdevol betrokke kan raak in die lewens van ander.

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 3: Groei

Dagstukkie 3/5 Vrydag 16 September 2016
Onderwerp

Jou rol in die liggaam van Christus

 

 

Lees

 

 

·        Efesiërs 4: 12-16

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wat is God se doel met jou gawes?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

As ‘n dissipel van Jesus is jy nie bedoel om alleen te werk nie. Een persoon kan nie alleen ‘n gemeenskap of dorp bereik nie. Selfs Jesus het gesteun op die liefde, gebede en ondersteuning van sy dissipels. Elke dissipel het gawes en geleenthede ontvang om ander weer in staat stel om Jesus beter te volg en te dien. Wanneer elke dissipel in God se familie hul unieke bydrae lewer, word Jesus Christus se liggaam gesond en opgebou. Is jou plaaslike kerk ongesond of aan die krimp omdat jy nie daar is nie? Dien jy met opoffering? Dalk mis jy selfs uit op die gesonde inset wat ander in jou lewe kon gee?

 

 

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 3: Groei

Dagstukkie 3/6 Saterdag 17 September 2016
Onderwerp

Moeg en seer?

 

 

 

Lees

 

 

·        Hebreërs 11: 32-12: 3

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wie is Jesus volgens 12:2?

·        Hoe moedig dit jou aan?

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Mense stel jou teleur. Jy stel jouself teleur. Projekte misluk. Mense wat jy gehelp het, draai terug na hul ou weë. Jou moeite by jou kerk word nie erken nie. Jy werk vir jou eie groei en dié van ander… maar dit gaan nie soos jy gehoop het nie. Jy ervaar dalk selfs weerstand of bedreigings. Wel, dan is jy in goeie geselskap. Vertroue in Jesus as sy dissipel is om te volhard in situasies wat hopeloos kan voel. Kyk verby die lyding wat nou deel van jou pad is en sien Christus en Sy voltooide werk vir jou raak. Sien dan hoe Hy ook verby sy lyding gekyk het en vasgehou het aan die vreugde wat by sy Vader in die toekoms gewag het. Hy sal sy goeie werk waarmee Hy in jou begin het klaarmaak. Onthou dit … lig jou kop op, hou jou oë op Jesus, nie die omstandighede of mense nie en volhard. Vreugde wag!

 

 

 

 

 

 

Week 4: Roeping en Inrig

 

Gedagtes oor die week se tema.

 

Die grondwerk is nou gedoen om jou duidelikheid te gee oor God se roeping vir sy kerk. Dit is om Homself in jou gemeenskap te verheerlik soos jy Christus gehoorsaam volg onder leiding van sy Gees.

Soos op baie terreine van die lewe ontwikkel ons met verloop van tyd gewoontes en maniere van doen wat nie meer hierdie doel van God behulpsaam ondersteun nie. Planne, gewoontes en strukture wat dalk in die verlede goed gewerk het, is dalk nie meer so effektief nie. Als werk ook nie noodwendig in elke konteks nie. Hierdie dinge kan selfs struikelblokke word.

God se waarheid het nie verander nie, maar ons land, kulture en gemeenskappe is altyd aan die verander. Ons behoort voortdurend te hervorm (semper reformanda) en ons bedieningstyle, strukture en stelsels beter inrig om ons opdrag beter te dien.

Om ʼn kerk se bediening beter in te rig en te belyn, kan beteken dat ‘n paar veranderinge in jou kerk kan volg. Meestal maak verandering ons bang en onseker. Maar vind jou enigste troos in Jesus Christus om jou kerk getrou te lei eerder as om valse troos in bekende strukture en gewoontes te soek.

 

 

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 4: Roeping en Inrig

Dagstukkie 4/1 Maandag 19 September 2016
Onderwerp

Pasop!

 

 

Lees

 

 

·        Kol 2: 6-10

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Waarin behoort gelowiges in die altyd-veranderende lewe vastigheid te vind (v6-7)

·        Wat bied nie vastigheid nie? (v.8)

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Soms is dinge bo blink maar onder stink. Soos ‘n blink appel met ‘n wurm binne. Alles in die kerk lyk in plek. Mense kan hul saak argumenteer oor wat en hoe die ware regte manier is. Hulle kan jou aandag met goed deurdagte teorieë vang, maar sonder dat jy vasgevang word deur Christus. Vers 8 gebruik doelbewus die woord ‘gevange’ (in die Grieks) omdat mense vasgevang word deur menslike konkoksies wat vrees en slawerny bring, eerder as deur Christus wat vryheid en vreugde bring. Ongeag die bedieningsbenadering, strukture of tradisies van julle kerk… voel jy vasgevang in die stelsel of vasgegryp deur Christus?

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 4: Roeping en Inrig

DAGSTUKKIE 4/2 Dinsdag 20 September 2016
Onderwerp

Jou énigste troos?

 

 

Lees

 

 

·        Kol 2: 13-19

·        HK Son. 1 V&A 1

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Hoekom sou ‘n lewende ongelowige as “dood” beskryf kan word (v13)

·        Noem uit v13-15 ‘n paar eienskappe van “lewend-wees” van ‘n ware gelowige.

 

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die probleem onder die Christene van Kolosse, net soos met ons, is dat hulle maklik geheg geraak het aan ander dinge as Christus alleen (sola Christi). Hulle is hier onder versoeking om sekerheid en troos te gaan soek in ou bekende tradisies wat op ʼn stadium na Christus gewys het. Maar sonder Jesus het hierdie dinge net leë afgode geword. Hulle is selfs hierin aangemoedig deur skynbaar ‘goeie mense’ maar wat self ook nie meer werklik vasgehou het aan Christus alleen nie. Jy sal slegs versterk word en groei wanneer jy uit Christus self groei, eerder as om sonder nadenke staat te maak op leë gewoontes. Jou enigste troos in lewe en dood is dat jy net aan Christus behoort – hoe gerus ou bekende dinge jou dalk ook mag laat voel!

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 4: Roeping en Inrig

Dagstukkie 4/3 Woensdag 21 September 2016
Onderwerp

Ware godsdiens?

 

 

 

Lees

 

 

·        Romeine 12: 1,2

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wat is volgens 1 die wesenlike van die ware godsdiens?

·        Wat sal werklike verandering in jou lewe bewerk?

·        Kan ‘n gelowige volgens v2 passief wees in die nuwe denke wat tot verandering lei?

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die genade van God in Christus roep jou om jouself met opoffering vir sy diens te gee deur jou lewe en jou keuses. Dit is die ware kern van godsdiens, eerder as ʼn godsdiens-sisteem met rituele of tradisies waaraan jy kan deelneem sonder dat jou hart daarin is. Om op hierdie nuwe manier oor jouself te dink sal jou help om werklik agter te kom wat God se wil vir jou is. Waar is jy besig met dinge wat nie pas by Romeine 12 se definisie van ware godsdiens nie? Beoefen jy ware godsdiens, of godsdienstige rituele?

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 4: Roeping en Inrig

Dagstukkie 4/4 Donderdag 22 September 2016
Onderwerp

Verskillende benaderings tot die Christelike lewe en bediening

 

 

 

Lees

 

 

·        Romeine 14: 1-12

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Identifiseer uit v1-12 ‘n aantal riglyne hoe gelowiges verskille wat hulle onder mekaar het, behoort te hanteer.

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Afhangend van hul volwassenheid in Christus, is mense op verskillende plekke in hul vryheid in Christus. Sommige voel dat, as gevolg van Christus, hulle baie vryheid het tov van allerhande moets en moenies. Ander voel weer dat hulle ontrou is aan Christus wanneer hulle vir hulself dieselfde vryheid toelaat. Die probleem ontstaan nou dat ons sondige harte wil neersien op die wat onvolwasse is of die wat volwasse is wil veroordeel. Waar pas jy? Waar verhinder dit jou vermoë om nog steeds jou broers en susters met liefde te dien? Slegs God ken ons harte en ons word hier opgeroep om die beoordeling daarvan aan God oor te laat en eerder mekaar se voordeel te soek. Gaan jy anders saampraat as mense weer staan en stoom afblaas?

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 4: Roeping en Inrig

Dagstukkie 4/5 Vrydag 23 September 2016
Onderwerp

Lewe in liefde en vrede

 

 

Lees

 

 

·        Romeine 14: 13-23

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Hoe is die koninkryk van God nie en hoe is dit wel?

·        Wat leer hierdie beskrywing vir ons van ‘n gemeente waar mense oor sake wat vir hulle baie belangrik is, baklei?

·        Waarvoor behoort gelowiges wat verskil hulle eerder te beywer as om ander van húlle standpunt te oortuig?

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Waaroor gaan die Koninkryk van God uiteindelik? Gee nie om wat ons doen nie, ons is reeds verkeerd wanneer ons die vrede en vreugde wat die Gees van God ons gee, laat los het. Elke persoon moet hul eie harte voor God ondersoek: “Is wat ek doen aangenaam vir God en dien dit sy doel?” Jou aktiwiteite behoort daarop gerig te wees om vrede te bewerk en mense op te bou in hulle vertroue in die voldoende werk van Christus (v19).

 

 

 

Kerkgroei: Fokustyd Dagstukkies

Week 4: Roeping en Inrig

Dagstukkie 4/6 Saterdag 24 September 2016
Onderwerp

Wat van die ander?

 

 

Lees

 

 

·        Rom. 15: 1-13

 

Vrae

 

 

 

 

 

 

·        Wat leer ons uit Christus se voorbeeld wanneer ons met ons medegelowiges verskil?

·        Wie se eer sal gedien word as ek my medegelowige wat met my verskil, aanvaar?

Bespreking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

As dissipels van Christus, word ons hier opgeroep om Jesus se manier van doen te volg in hoe jy verskille in bedieningspraktyke van ander benader. Hy het Homself nederig beskikbaar gestel vir ons groei en wat voordelig vir ons geloof sou wees – eerder as om ons net te veroordeel vir die feit dat ons selfs geen geloof gehad het nie en boonop sy vyande was (Ro 5: 8,10). Met só gesindheid teenoor mekaar kan mense eensgesind wees – op soek na mekaar se voordeel en God selfs saam aanbid. Om mekaar op hierdie manier lief te hê voor die oë van die wêreld sal bydra tot God se heerlikheid (v7). Hoe verander hierdie perspektief die manier waarop jy voortaan oor ander dink en teenoor hulle optree – al verskil jy met hulle?

 

 

 

Groep-bybelstudies

Tema: Bekeer (Week 1: 29/8/2016 – 4/09/2016)

Groepstudie

Hierdie studie is bedoel vir groepe in julle kerk om saam te doen gedurende die week wat fokus op bekering.

 

Bid saam vir God se leiding
Afskop vraag: Waarom hou mense oor die algemeen nie van raad nie?
Lees Psalm 19
Gee ‘n geleentheid vir die wat bereid is om iets te deel wat vir hulle van die teks uitgestaan het.
Gee ‘n geleentheid vir die wat bereid is om ʼn vraag te vra oor iets in die teks. Gee eers ʼn kans vir al die vrae en skryf dit dan neer.
Bespreek die vrae nou saam
Deel met mekaar wat jy dink God vir jou deur die teks sê vir jou lewe ten opsigte van bekering.
Bid saam.

 


 

Tema: Gebed (Week 2: 05/9/2016 – 11/09/2016)

Groepstudie

Hierdie studie is bedoel vir groepe in julle kerk om saam te doen gedurende die week wat fokus op gebed.

 

Bid saam vir God se leiding
Afskop vraag: Hoekom is dit moeilik om ʼn aktiewe en gedissiplineerde gebedslewe te hê?
Kies en lees een van die tekste wat hierbo genoem is oor gebed.
Gee ‘n geleentheid vir die wat bereid is om iets te deel wat vir hulle van die teks uitgestaan het.
Gee ‘n geleentheid vir die wat bereid is om ʼn vraag te vra oor iets in die teks. Gee eers ʼn kans vir al die vrae en skryf dit dan neer.
Bespreek die vrae nou saam
Deel met mekaar wat jy dink God vir jou deur die teks sê vir jou lewe ten opsigte van gebed.
Bid saam.

 

 


 

Tema: Groei (Week 3: 12/09/2016 – 18/09/2016)

Groepstudie

Hierdie studie is bedoel vir groepe in julle kerk om saam te doen gedurende die week wat fokus op groei.

Bid saam vir God se leiding
Afskop vraag: Waar in jou lewe ervaar jy die vrug van harde werk?
Lees Galasiërs 6:1-10.
Gee ‘n geleentheid vir die wat bereid is om iets te deel wat vir hulle van die teks uitgestaan het.
Gee ‘n geleentheid vir die wat bereid is om ʼn vraag te vra oor iets in die teks. Gee eers ʼn kans vir al die vrae en skryf dit dan neer.
Bespreek die vrae nou saam
Deel met mekaar wat jy dink God vir jou deur die teks sê vir jou lewe ten opsigte van groei.
Bid saam.

 


 

Tema: Roeping – Inrig (Week 4: 19/09/2016 – 25/09/2016)

Groepstudie

Hierdie studie is bedoel vir groepe in julle kerk om saam te doen gedurende die week wat fokus op gebed.

Bid saam vir God se leiding

Afskop vraag: Watter rol speel die geraamte in ʼn liggaam?
Lees Nehemia 1
Gee ‘n geleentheid vir die wat bereid is om iets te deel wat vir hulle van die teks uitgestaan het.
Gee ‘n geleentheid vir die wat bereid is om ʼn vraag te vra oor iets in die teks. Gee eers ʼn kans vir al die vrae en skryf dit dan neer.
Bespreek die vrae nou saam
Deel met mekaar wat jy dink God vir jou deur die teks sê vir jou lewe ten opsigte van God se missie.
Bid saam.