Bybelstudie met die oog op 10 Desember se oggend woordverkondiging
Lees Titus 2. Die klem sal in die prediking op vers 11-14 val.
- In verse 1-10 word ‘n baie spesifieke rede beklemtoon waarom alle, ja, alle gelowiges daarop moet let op hoe hulle lewe. Motiveer uit verse 5, 8 en 10.
- Waarna sou die genade van God wat volgens vers 11 verskyn het, verwys?
- Ons weet dat die verskyning van God se genade (met die geboorte van Jesus Christus) nie beteken dat Jesus Christus vir alle mense sou sterf nie. Sou u uit vers 11 egter kan aandui dat die oproep om hierdie “genade” te aanvaar, wel tot alle mense gerig moet word? Moet alle mense dus volgens vers 11 tot geloof geroep word?
- Waartoe voed die genade wat verskyn ons volgens vers 12 op? Wat sal mense wat deur die genade opgevoed word, “verloën”? Watter drie eienskappe sal sulke opgevoede mense se lewe vertoon?
- Nie alleen dit wat in die verlede gebeur het (die verskyning van die genade) dring gelowiges om op ‘n sekere manier te leef nie. Ook dit wat in die toekoms gaan gebeur, dring ons. Motiveer uit vers 13-14.
- Noem uit verse 13-14 ‘n aantal sake waarom dit wat in die toekoms gaan gebeur, ‘n reuse motivering is om in hierdie bedeling getrou aan God te leef.