DIE GKSA EN DIE IGLESIA NACIONAL PRESBITERIANA DE MéXICO (INPM)
Dr Douw gee graag die volgende inligting aan u deur na aanleiding van sy en dr Malan van Rhyn se besoek aan Meksiko:
Agtergrond
Tydens die GKSA se Algemene Sinode 2015 is onder andere die volgende gerapporteer oor die Iglesia Nacional Presbiteriana de México, A. R.:
Die INPM is die grootste Calvinistiese kerkverband in Mexiko met 6000 gemeentes en 1, 200 000 lidmate.
Hulle het 700 predikante en 50 “presbyteries” (klassikale vergaderinge), 8 streeksinodes, 1 General Assembly (Algemene Sinode) en het 7 Teologiese Seminariums vir predikantsopleiding.
Die INPM funksioneer in die volgende tale: Spaans, Maya, Chol, Tzetal, Tojolabal, Mixe, Mixteco en ander Indiaanse tale. Hulle belydenisskrifte is onder andere die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls en die Westminster Konfessie van 1646/47.
Tot ongeveer 1810 was die Rooms-Katolieke Kerk die enigste erkende Christelike godsdiens in Mexiko, maar nadat Mexiko onafhanklikheid van Spanje gekry het, het dit verander en na ‘n tyd van stryd en vervolging het daar in 1857 godsdiensvryheid gekom.
Rondom 1872 het vier verskillende Gereformeerd Presbiteriaanse kerke en die Reformed Church in America (RCA) op verskillende plekke met sendingwerk in Mexiko begin.
Die werk het vinnig gegroei en die eerste “Presbitery” vergadering is in 1883 te Zacatecas gehou. Die eerste Teologiese Skool is in 1884 in Mexikostad geopen. Van die verskillende kerke wat deur sendingwerk ontstaan het, het mettertyd saamgesmelt en in 1901 is die eerste Sinode gehou waar 73 kerke en nog 190 preekpunte (gemeentes in wording) afgevaardigdes gehad het met 46 predikante teenwoordig.
Kerklike verhoudinge tussen die GKSA en INPM
Tydens die GKSA se Algemene Sinode 2015 is kennis geneem van die groei in kerklike verhoudinge tussen die GKSA en die INPM en is besluit om Ekumeniese Bande (vlak 2) met die INPM aan te gaan.
Afgevaardig na die INPM se General Assembly 2018 in Meksiko
Ek en Dr. Malan van Rhyn is deur die Deputate Ekumeniese Sake (buitelands) afgevaardig om die General Assembly van die INPM in Ciudad Valles, Meksiko by te woon. Ons is hartlik ontvang en daar is seker gemaak dat ons kon deel in verrigtinge tydens die vergadering. Vertalers het voortdurend vir ons vanuit die Spaans in Engels vertaal sodat ons besprekings en besluite wat geneem word, kon volg en selfs kon deelneem.
Ons het geleentheid gehad om aan die General Assembly namens die GKSA ‘n groeteboodskap te bring. Daar was groot belangstelling in dit wat tans in Suid Afrika gebeur, in die geskiedenis van die GKSA en in besonder in die GKSA se teologiese opleiding in Potchefstroom. Tydens die byeenkoms het rektore van drie van die INPM se seminariums met ons afsprake gemaak. Dit was uit die gesprekke wat gevolg het, duidelik dat daar by die INPM groot behoefte is aan deeglike en Skrifgetroue teologiese opleiding. Met dankbaarheid kan ons noem dat daar tans reëlings getref word vir ‘n besoek van ons broers van Meksiko aan Potchefstroom in November 2018. Uit voorlopige gesprekke blyk dit dat dit heel moontlik is dat die broers reeds in 2019 met nagraadse studie vanuit Meksiko by Potchefstroom kan begin en dat voorgraadse studie via die internet ook nie uitgesluit is nie.
Tydens die General Assembly was dit ook moontlik om formeel gesprek te voer met die nuwe “moderamen” wat verkies is. Uit hierdie gesprekke het ons tot die besef gekom dat, hoewel ons in verskillende wêrelde leef, daar groot ooreenkomste is in die roeping van die GKSA in SA en die roeping van die INPM in Meksiko en dat ons mekaar op verskeie wyses kan bystaan in die getroue uitvoering van ons roepings.
Twee interessanthede:
- Die voorsitter het een aand versoek dat ek die dag se verrigtinge met gebed sal afsluit. Die versoek was egter dat ek dit in Afrikaans sal doen. Een van ons Meksikaanse broers het ná die tyd opgemerk dat hy niks verstaan het nie, maar dink dat die Here wel verstaan het!
- Ek en dr. Malan het gou geleer om tydens etes eers met elke gereg ‘n klein skeppie te proe. Dit is veral dit wat rooi of groen is in die geregte waarvoor jy uiters versigtig moet wees. Nie eers Rennies help vir die brand van hierdie rooi-gevaar (of die groen-gevaar) nie !!
Dr. Douw Breed
BESOEK AAN DIE GEREFORMEERDE KERKE IN HONGARYE
Ons het die volgende berig van dr Malan van Rhyn ontvang :
Ek en dr Douw Breed het onlangs teruggekeer van ‘n besoek aan die Reformed Presbyterian Church of Central and Eastern Europe met gemeentes in Hongarye, Roemenië en die Oekraïne. Die klein kerkverband het 20 jaar gelede afgeskei van die Hungarian Reformed Church. Die Reformed Presbyterian Church of Central and Eastern Europe is ernstig oor die Gereformeerde leer en het ‘n groot behoefte aan die opleiding van predikante by ‘n instansie wat die Gereformeerde leer koester.
Verlede jaar het ds Imre Szöke die vergadering van die International Council of Reformed Churches, waarvan die GKSA ook ‘n lid is, bygewoon. Daar het hy die geskiedenis van sy kerk vertel en ‘n pleidooi gelewer dat lidkerke hulle sal ondersteun met die opleiding van hulle predikante. Die pleidooi het nie op dowe ore geval nie en ds Szöke is uitgenooi om die Algemene Sinode van die GKSA aan die begin van die jaar by te woon, wat hy ook gedoen het.
Daar het hy sy pleidooi herhaal en ook die GKSA versoek om hulle by te staan in die belangrike saak van predikantsopleiding.
Die GKSA het nog altyd sulke versoeke in ‘n baie ernstige lig beskou, aangesien dit een van ons sterk punte is en omdat ons besef dat ons op die manier kerke kan bystaan en ‘n invloed kan uitoefen en ‘n bydrae kan lewer in die opbou en uitbou van kerke wêreldwyd. Daarom het die Deputate vir Ekumeniese Sake vir my en dr Breed afgevaardig om die Reformed Presbyterian Church of Central and Eastern Europe te besoek en vas te stel hoe ons hulle kan bystaan.
Tydens die besoek is ons hartlik ontvang en het ons diep onder die indruk daarvan gekom dat die kerke ernstig is oor die Gereformeerde leer en dat hulle doodseker wil wees dat hulle predikante Skrifgetroue opleiding ontvang. Ons het ook onder die indruk gekom van die toegewydheid van die predikante en hulle eggenotes en hulle bereidheid om opofferings te maak ter wille van die wel wese van die kerk van die Here. Anders as die Hungarian Reformed Church ontvang hulle geen staatshulp nie en is hulle ten volle op hulle self aangewese. Dit was vir ons as afgevaardigdes van die GKSA ‘n groot voorreg om die kerke te besoek en die predikante, hulle vrouens en die lidmate te bemoedig om getrou te bly aan die Evangelie. Daar is goeie verhoudings gebou en die saak van predikantsopleiding word nou verder ondersoek.
Ek is opnuut dankbaar daarvoor dat ons predikantsopleiding van hoë gehalte is en dat die GKSA in staat is om ander kerke ook hierin by te staan tot eer van die Here.
Bid asseblief vir die Reformed Presbyterian Church of Central and Eastern Europe en vir hulle predikante, dat die Here in hulle behoeftes sal voorsien en vrug op hulle werk sal gee.
– Dr Malan van Rhyn, voorsitter van die Deputate vir Ekumeniese Sake (buitelands)