Skip to content
Menu

Riglyne vir Bybelstudie met die oog op Sondag 17 Februarie 2019.

 Lees Johannes 6:22-48 soos hier onder weergegee, sorgvuldig deur.

22 Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag 23 kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het. 24 Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. 25 En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

26 Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. 27 Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

28 Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”

29 En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

30 Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? 31 Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.”

32 Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. 33 Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

34 Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”

35 Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. 36 Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37 “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38 Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39 En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40 Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

41 Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42 Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43 Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. 44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 45 By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46 Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47 “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48 Ek is die brood wat lewe gee.

Riglyne vir die studie oor verse 37-45. Die Bybelstudie sal fokus op verse 37-45.

  1. Jesus verwys in vers 37 na mense wat na Hom toe kom. In verse 22-36 hoor ons van mense wat moeite gedoen het om by Jesus uit te kom. Tog is hulle juis nié van die mense, van wie Jesus in vers 37 sê: “hom wat na my toe kom.” Motiveer.
  2. Jesus praat van mense wat die Vader vir Hom gee. Wat bedoel hy daarmee?
  3. Waarvan kan iemand wat die Vader vir Jesus gee, volgens vers 37 seker wees?
  4. In vers 38 lees ons Jesus se motivering waarom Hy nie iemand wat die Vader vir Hom gee, sal verwerp nie. Wat is die motivering?
  5. Uit vers 39 blyk dit dat Jesus ‘n verdere motivering gee waarom nie een van die wat die Vader aan Jesus gee, verlore sal gaan nie. Verduidelik.
  6. Volgens vers 39 leer Jesus dat Hy die mense wat die Vader aan Hom gee, nie net sal bewaar nie. Wat sal Hy ook doen met die mense wat die Vader aan Hom gee?
  7. Hoe sal iemand volgens vers 40 weet of hy/sy deur Jesus Christus bewaar word en opgewek sal word?
  8. Uit verse 41- 43 lyk dit of die mense wat na Jesus geluister het, nie van dié besondere mense was wat die Vader aan Jesus gegee het nie.
  9. Wat is volgens verse 44 – 45 die ware oorsaak wanneer iemand in Jesus Christus glo?
  10. Kan ‘n mens volgens 47- 48 werklik seker wees dat jy deur die Vader aan Jesus gegee is en daarom deur Hom bewaar word en hoe sal jy dit volgens hierdie vers kan weet?

Lees ook die Dortse Leerreëls art. 11-16 soos hier onder deeglik deur.

  1. God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie.

 

  1. Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur verskillend en nie vir almal in gelyke mate nie. Hierdie versekering ontvang hulle nie as hulle nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God probeer deursoek nie. Hulle ontvang die sekerheid egter as hulle in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waarneem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is die ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ensovoorts (#2Kor 13:5).

 

  1.  Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ‘n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te wandel.

 

  1. Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God-waarvoor dit in die besonder bestem is-uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder ‘n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot ‘n lewende troos vir sy volk (#Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33,34; Heb 6:17,18).

 

  1. Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakende geloof en die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die Verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God ‘n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.

 

  1. Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie- ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God hulle beloof het om hierdie dinge in ons te bewerk-moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen gehoorsaam te wees en van die liggaam van die dood verlos te word, maar op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle wel wou nie, behoort nog minder die leer van die verwerping te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.