Skip to content
Menu

Riglyne Bybelstudie met die oog op Sondag 24 Februarie 2019 (Nagmaal en nabetragting)

Lees 2 Tessalonisense 2:13-17 soos dit hier onder uit die Direkte Vertaling weergegee word.

2 Tessalonisense 2:13-17

13 Ons, egter, behoort God altyd vir julle te dank, broers, julle vir wie die Here liefhet, omdat God julle as eerste vrug gekies het om verlos te word, deurdat die Gees julle heilig en deurdat julle die waarheid glo. 14 Hy het julle ook daartoe geroep om deur ons verkondiging van die evangelie die heerlikheid van ons Here Jesus Christus te verkry.  15 Daarom dan, broers, wees standvastig en hou vas aan die tradisie waarin julle onderrig is deur ‘n woord of ‘n brief van ons af.  16 En mag ons Here Jesus Christus self en God ons Vader wat ons liefhet en uit genade aan ons blywende bemoediging en goeie hoop gee, 17 julle harte bemoedig en vir elke goeie daad en woord versterk.

Gee in jou studie aan die volgende sake aandag.

  1. In vers 13 is al drie Persone van die goddelike Drie-eenheid ter sprake.  Motiveer uit vers 13.
  2. Paulus sê dat die Here (Jesus) die lesers liefhet. Waaruit sou hierdie liefde vir die lesers duidelik kon wees? (vgl. bv. 1 Thess. 4:14).
  3. God die Vader het die lesers volgens vers 13 “gekies.”  Waartoe is hulle volgens vers 13 gekies, met ander woorde waarop sal dit uitloop dat die Vader hulle gekies het?
  4. Die lesers is volgens vers 13 deur God die Vader as “eerste vrug” gekies. Volgens die nota in die Direkte Vertaling verwys “eerste vrug” of “eersteling” na die eerste graan of vrugte wat aan die begin van die oes aan God gewy is. Waartoe sou dit die lesers aanspoor as hulle besef dat hulle wat gekies is om verlos te word, net die eerste deel van die volle oes in Tessalonika is?
  5. Wat is die spesifieke werk wat die derde Persoon van die goddelike Drie-eenheid volgens vers 13 doen?
  6. Die lesers glo volgens vers 13 die waarheid wat deur God geopenbaar is. Hoe verskil dit met ander mense in Tessalonika? Lees verse 11-12.
  7. Wat is volgens vers 14 die gevolge wanneer iemand die evangelie glo?
  8. Hoewel die Heilige Gees gelowiges daartoe bring om die evangelie te glo en in die geloof te volhard, beteken dit nie dat gelowiges geen verantwoordelikheid het nie.  Motiveer uit vers 15.
  9. Die lesers word deur Paulus in vers 16-17 ryke seëninge toegewens.  Motiveer.  (Wenk let op Wie die seëning moet skenk, op watter grond dit geskenk word, wat presies geskenk sal word en waartoe so skenking sal lei.)

Lees ook die hoofstuk 1 van die Dortse Leerreëls artikel 14 soos hier onder weergegee:

  1. Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God-waarvoor dit in die besonder bestem is-uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder ‘n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot ‘n lewende troos vir sy volk.