Skip to content
Menu

Bybelstudie met die oog op Sondag 10 Maart 2019

Lees Efesiërs 1:3-14 deur soos dit hier onder uit die Direkte Vertaling weergegee word.

Efesiërs 1:3-14

3 Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus!  Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel. 4 So het Hy ons voor die skepping van die wêreld in Hom uitgekies sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou leef, 5 voorbestem om deur Jesus Christus as kinders vir Hom aangeneem te word, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het,  6 tot lof van die heerlikheid van sy genade  waarmee Hy ons in die Geliefde begunstig het.  7 In Hom het ons die bevryding deur sy bloed,  die vergewing van ons oortredinge, uit die rykdom van sy genade, 8 wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het saam met alle wysheid en insig. 9 Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en by Homself voorgeneem het, 10 om die volheid van die tye te bestuur  en om alle dinge in Christus onder een Hoof saam te bring — die dinge in die hemel en die dinge op die aarde — ja, alles saam in Hom.

11 In Hom is ons ook uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur,  12 sodat ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gevestig het,  kan leef tot lof van sy heerlikheid.

13 In Hom is julle, nadat julle die woord van die waarheid,  die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het,  verseël met die Heilige Gees wat beloof is.  14 Die Gees is die waarborg van ons erfdeel  vir die bevryding van God se eiendomsvolk,  tot lof van sy heerlikheid.

As deel van die reeks preke oor die uitverkiesing, sal die klem komende Sondag op verse 11-12 val.  Gee in u studie aan die volgende sake aandag:

  1. Wie is die “Hom” waarna in vers 11 verwys word. (Wenk: lees vers 10.)
  2. Vers 11 stel in die passief dat gelowiges uitverkies is.  Wie is egter die Een wat uitverkies? (Wenk: vgl. v. 3).
  3. Volgens vers 11b verkies die Vader van ons Here Jesus nie net mense uit nie.  Saam met die uitverkiesing, doen Hy ook iets anders. Verduidelik uit vers 11b.
  4. Wat beteken dit as die Vader die mense wat hy uitverkies het, “voorbestem?”
  5. Die voorbestemming van uitverkorenes gebeur volgens Iemand se “voorneme.”  Wat sou dit beteken dat dit volgens ‘n voorneme gebeur?
  6. Hoe word die Een volgens Wie se voorneme die voorbestemming plaasvind, in vers 11 beskryf?
  7. Hy wat mense volgens sy voorneme voorbestem, kan ook sorg dat sy voorneme sal geskied.  Motiveer uit vers 11.
  8. Watter ooreenkoms sien u tussen Psalm 33:12 en Efesiërs 1:11?
  9. Die mense wat in Christus uitverkies is, se verhouding met Christus word op ‘n baie spesifieke manier in vers 12 beskryf.  Motiveer.
  10. Die mense wat in Christus uitverkies is, se lewe sal volgens vers 12 ‘n baie spesifieke gerigtheid hê.  Verduidelik uit vers 12.