Bybelstudieriglyne vir Sondag 17 Maart 2019
Lees 2 Samuel 23:1-8 deur soos dit hier onder weergegee word.
2 Samuel 23:1-8
1 Hier volg die laaste woorde van Dawid:
“Dit is Dawid seun van Isai wat praat.
Dit is ‘n man wat praat, een wat hoog geplaas is,
die gesalfde van die God van Jakob,
die gevierde in die liedere van Israel:
2 “Die Gees van die Here het deur my gepraat,
ja, sy woord was op my lippe.
3 Die God van Israel het gepraat,
die Rots van Israel het vir my gesê:
‘Hy wat regverdig oor mense heers,
wat regeer in eerbied teenoor God,
4 is soos die môrelig as die son opkom
op ‘n oggend sonder wolke;
dit skitter na die reën;
die gras skiet op uit die grond.’
5 “God het my koningskap goed gevestig,
Hy het aan my ‘n verbond vir altyd gegee,
behoorlik opgestel en goed bewaar.
Al my hulp, al my vreugde,
dit kom van Hom af.
6 Maar die goddelose is soos doringtakke wat alles weggegooi word;
niemand vat met die hand daaraan nie.
7 Wie daarmee werk, doen dit met yster of hout.
In ‘n vuur brand hulle heeltemal uit.”
Gee in u studie aan die volgende sake aandag:
- Watter vier sake het Dawid van homself in sy laaste woorde genoem voordat hy gesterf het? (vers 1).
- Hoekom sou Dawid se laaste woorde volgens vers 2 uiters betroubaar wees?
- In vers 3a-b noem Dawid God op ‘n besondere manier. Motiveer uit vers 3.
- In vers 3c-d maak God deur Dawid duidelik hoe Hy wil hê ‘n regeerder moet regeer. Wat is die twee vereistes wat in vers 3c-d genoem word?
- In vers 4 word met sprekende beelde uit die skepping uitgespel wat die gevolge is vir onderdane wanneer regeerders regverdig oor mense heers en in eerbied teenoor God regeer. Verduidelik.
- Nadat Dawid in verse 3-4 ook die wyse waarop iemand moet regeer, gehandel het, verwys hy in vers 5 na sy eie koningskap. Wat sê hy in vers 5a van sy koningskap?
- Dawid verwys ook in vers 5 na ‘n verbond wat God met hom gevestig het wat alles met Dawid se koningskap en die koningskap van sy nageslag te doen het. Watter verbond is dit waarna Dawid in sy laaste woorde verwys? (Wenk: Lees 2 Sam. 7:12-13).
- Uit 2 Samuel 7:13-15 is dit duidelik dat God aan Dawid beloof het dat sy koningshuis en sy koningskap vir altyd vas sal staan; dat sy troon altyd sal voortbestaan. Die konings uit Dawid se nageslag was allermins standvastig en konings wat regverdig en met eerbied teenoor God regeer het. Wat het dan geword van God se belofte dat Dawid se koningskap vir altyd sal standhou? (Wenk: Lees Matteus 1:1).
- Ons leef nou onder die heerskappy van ‘n Koning uit die nageslag van Dawid. Motiveer.
- Wat beteken dit vir my as gelowige dat ek onder die regering van die Koning uit Dawid se nageslag leef, veral wanneer ek sien hoe ontrou die regeerders in ons land is en ek dalk nie veel hoop het dat die nuwe leiers ná die verkiesing veel beter sal wees nie?
- Vers 6-7 vorm ‘n duidelike kontras met dit wat in die vorige verse gesê is. Dawid gebruik weer, soos in vers 4, sprekende beelde. Wat beklemtoon hy van die goddelose mense met die beelde wat hy in die verse gebruik?