Lees: 1 Timotheus 1:1-11 & Openbaring 2:1-7 Teks: 1 Timotheus 1:5
GOD SE TAAK VIR SY GEMEENTE
1. Doen dit wat reg is
As jong predikant is Timoteus werksaam in die stad Efese. Dié stad het vir sy afgodediens bekend gestaan. Die stad was werklik donker en vol van die sonde. Toe die evangelie daar verkondig is, het dit lig gebring. Waar slegs dood was het lewe gekom. Die gemeente wat hier ontstaan het was ‘n aktiewe gemeente. Hulle werk hard vir die kerk, verkondig die Woord en verdedig die leer. Die laaste tyd is daar egter sommige mense wat vreemde dinge verkondig en in ‘n niksseggende gepraat verval. Die gevolg hiervan: die kern waaroor dit gaan, die liefde van God in Jesus Christus word verloor.
2. Doen dit met liefde
In die gemeente van Jesus Christus word daar in sy waarheid geleef. Wat ons as gemeente doen, doen ons volgens die Here se instruksies. Ons doen wat reg is volgens sy wil en Woord. Die maatstaf is: so sê die Here. Die hele wet van God, al sy riglyne vir leer en lewe, vind sy vervulling in die liefde. Ons Here Jesus sê immers dat dit die grootste gebod is. As die liefde nie meer daar is nie, ontbreek die hart van kerkwees. Daarom is die doel van die opdrag liefde uit ‘n rein hart, ‘n skoon gewete en ‘n ongeveinsde geloof.