Skip to content
Menu

Lees:   Romeine 13:1-6                                                  

Teks:  Romeine 13:1,4a

Belydenis: NGB Artikel 36

GELOWIGES EN DIE OWERHEID

1.    Die Here regeer

In Romeine 13 skryf Paulus – “Elke mens moet onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en die wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ‘n oordeel oor hulleself bring…Want die owerheid is ‘n dienskneg van God tot jou beswil. (Romeine 13:1-6) Die Here regeer deur owerhede.

2.    Die owerheid organiseer

Die owerhede moet toesien dat alles hier ordelik verloop. Ons bely in artikel 36 dat dit die Here se wil is dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer word. Die owerheid moet dit organiseer. Hulle moet toesien dat die losbandigheid van die mens in bedwang gehou word en dat alle onder die mense ordelik verloop. Hulle moet toesien dat ‘n land se mense beskerm word in ‘n tyd van nood.

3.    Ons eer

Ons glo God wil die rustige lewe op die aarde in stand hou. Daarom is daar ‘n owerheid. Hierdie beginsel is al vasgestel in die huisgesin. Kinders word gestel onder die gesag van hulle ouers en moet hulle daaraan onderwerp en gehoorsaam wees. Die “eer jou vader en jou moeder…” van die vyfde gebod verklaar ons Kategismus soos volg: “Dat ek my vader en my moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou moet bewys…” (v&a 104)