Lees: 1 Timotheus 4:6-16
Teks: 1 Timotheus 4:7,8
GEOEFEN IN DIE GELOOF
1. Vermy niksseggende versinsels
As jy jou liggaamlike fiksheid in stand wil hou, moet jy daarvoor oefen. Paulus gebruik hierdie beeld om aan te toon dat dit ook vir ons geestelike toestand geld. Vir die gelowige is dit ‘n groot gevaar. Jou geloof is lewendig. Dit moet gevoed word. Dit moet groei. Die gevaar is dat jy verslap. In die gemeente waar Timotheus werk, het dit gebeur. Mense het Jesus Christus uit die oog verloor en aan niksseggende versinsels vasgehou.
2. Oefen jouself in vroomheid
Die Bybelse woord ‘godsvrug’ beteken om vroom te lewe. Dit behels dat jy saam met God in die krag van sy Gees leef. Christus self is die diep geheim van vroomheid. Om geestelik te groei beteken om te groei in die liefde van Jesus en om in ‘n intieme verhouding saam met Hom te leef. Om geestelik gevoed te word, eis oefening. Dit gebeur deur gebed, Bybel lees, eredienste, Bybelstudie, barmhartigheidswerk ens. Dit verg inspanning en tyd. Die uitleef van jou geloof is uitdagend in ‘n sondige wêreld.
3. Hoop op die lewende God
Aan die oefen in vroomheid is ‘n belofte verbind. Nie net vir later nie, maar ook vir nou. Dit gaan oor die belofte van lewe. Geestelike oefening kos inspanning, maar dit gee energie. Dit gee hoop en houvas. Dit plaas jou fokus op die kern waaroor alles gaan. ’Want hiervoor werk ons hard en stry ons, omdat ons ons hoop geplaas het op die lewende God, wat die Verlosser van alle mense is, veral van die gelowiges.’