Genesis 39
Mattheus 1:18-25
‘Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem – wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’
As die HERE met jou is
Geseënd
As die Here met jou is, is jou lewe geseënd. Ondanks Josef se omstandighede was hy ‘n voorspoedige man. Wat beteken dit om geseënd te wees? Dit beteken dat jou woorde en dade gebeur tot eer van God, dat dit inskakel by sy plan. Dan is dit wat jy doen, binne die omstandighede waarin jy is, nie tevergeefs nie. Vir die mense om jou heen is jy ook tot ‘n seën.
Getoets
Maar al is die Here met jou, word jy nie van verleiding gevrywaar nie. Ons hoor dit in die woorde van mevrou Potifar – ‘Kom lê by my!’ Hoe beter dit met jou gaan, hoe groter is die lokvalle – van mense uit jou omgewing en van die maatskappy waarbinne jy leef. As die Here met jou is, leer jy om nee te sê. Josef weier. Hy hoor die verleidelike woorde, maar hy gee nie daaraan gehoor nie. Hy sê nee, omdat sy ja teenoor God groter is. Ons sien hier die moed van ‘n kind van God. Selfs in ‘n vreemde land bly Josef soek na die wil van God. Selfs al beteken dit dat hy in die gevangenis opeindig.
Genade
Daar in die gevangenis versprei hy die lig. Die Here is met hom, want dit is nie van die omstandighede afhanklik nie. Oral kan jy tot ‘n seën wees – in die paleis, maar ook in die gevangenis. As die Here met jou is, dan ontvang jy ‘n seën en jy is ‘n seën vir ander. Jy leer om nee te sê vir die sonde vanuit jou ja teenoor die Here. Jy leef volgens die wil van God.
Dank God! Wees trou in jou diens op die plek waar God jou plaas. Ontvang vergewing van Christus en gaan die stryd moedig aan. Wees duidelik oor wat jy nie wil nie en toegewyd aan dit wat jy beloof het. Mag die Here met jou wees!
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com