Mattheus 6:19-34
‘Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.’
DOMINEER OF DIEN
Moenie jou bekommer nie! Dit sê Jesus vir ons in die bergrede. Dit is sy woorde aan die mense wat daar voor Hom sit en luister. Dit is sy woorde vandag vir ons, wat saam hierdie gedeelte uit die Bybel gelees het. Maar is dit nie ‘n wêreldvreemde gedagte niet? Kan jy so iets vir iemand sê? Want ons is tog almal bekommerd. Daar is soveel moeilike dinge in ons lewens. Soveel beproewings wat op ons pad kom. Siekte, tekort aan geld, gebreekte verhoudings. Daar is soveel dinge wat ons kan noem. Ons moet tog ook planne maak vir die toekoms? Jy moet tog werk sodat daar aan die einde van die dag kos op die tafel is. Jy is tog verantwoordelik om die studie wat jy begin het te voltooi. Wat beteken hierdie woorde van ons Here Jesus Christus in die Bergrede? Moenie jou bekommer nie. Wees nie besorgd nie. Soek eers die koninkryk van God.
Soek eers die Koninkryk van God
Jesus bedoel nie dat ons glad nie planne moet maak nie, dat ons nie moet sorg dra vir mekaar nie, dat ons nie voorsorgmaatreëls in plek het of dat ons met die arms gevou moet sit nie. As Jesus in die Bergrede oor bekommernisse praat, (dan is dit goed om te sien dat Hy erken dat dit daar is) plaas Hy ons fokus op die Koninkryk. Op die nuwe wêreld wat sy gestalte kry. Waarmee God aan die werk is. Die onderwys van hoofstuk ses word in vers 25 saamgevat – Soek God se ryk sonder om besorgd te wees oor die daaglikse dinge van hierdie wêreld.
En sy geregtigheid
In hierdie gedeelte raak Jesus twee sake in ons lewens aan. Die eerste is ons besorgdheid, selfs beheptheid met soveel dinge. Gedurig aan dinge dink en goeters doen, maar jy is besig met dit waaroor dit op die ou end nie gaan nie. In verband hiermee het ons die deel oor Martha gelees. ‘Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge…’ (vers 41) Om jou te kwel oor iets, of om jou oor iets te bekommer is nou verwant. Albei kan in die pad van die koninkryk van God staan. Die tweede is ons ambisies. Daarby word ons aangespreek op ons prioriteite, by dit wat eerste staan.
En al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word
‘Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.’ (vers 34) Om nie te bekommer nie. Dit pas by ‘n lewe saam met God – as jy mooi dink is dit eintlik selfs logies. Die Here sorg en daarin vind ons rus. Hy lei ons deur alle omstandighede heen.
Gesprekspunte
- Oor watter dinge is jy gereeld bekommerd? Wat is die betekenis van vers 25 vir ons vandag?
- Wat beteken dit om eers die koninkryk van God te soek?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com