Skip to content
Menu

Lees:  Handelinge 18:1-17 & 1 Korinthiërs 1:1-9         Teks: 1 Korinthiërs 1:5        Sing: Ps. 48:1,4,5; Sb. 12-3:1,2; Ps. 103:2,3; Ps. 119:7,25; Ps. 147:7; Sb. 18-7:1,2,3,10.

‘Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk…’

In die wêreld is daar ‘n paar skatryk mense. Mense wat miljoene op hulle rekeninge het. Tog is daar ‘n rykdom groter as dit. Skatryk is hulle in wie se harte daar deur die Here geloof gewerk is. Wat is nou die verskil? Tussen ryk in geld en ryk in God? Geld kan jy tel, geloof nie. Met geld kan jy baie dinge koop. Dit is bietjie moeiliker om aan te dui wat jy prakties met jou geloof kan doen. Geld groei deur hard te werk of slim te belê. Maar hoe groei geloof nou eintlik? Om geld te verloor is pynlik, maar nie onoorkombaar nie. Om geloof te verloor, lewer nie armoede op nie, maar die dood. As jy jou geld met iemand anders deel, word jou geld minder. Maar as jy jou geloof met iemand deel, dan groei jou eie rykdom. ‘Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk…’ Dit bring ons vanoggend by die vraag: Weet jy hoe ryk jy is? Dan dink ek is dit belangrik om te weet hoe ryk jy as christen is en watter rykdom jou geloof oplewer.

Die rykdom is ‘n gesamentlike skat

In die gemeente van Korinthe het alles nie vlot verloop nie. Daarom begin Paulus deur hulle aandag te fokus op die kern van die saak. Hy erken hulle as kerk van Jesus Christus omdat hulle nog aan die fundamentele kern van die evangelie vashou. Hulle gesamentlike rykdom benoem hy aan die hand van vier dinge: (1) Julle is ryk in elke woord; (2) Julle is ryk in alle kennis; (3) Julle is ryk in die verwagting van die wederkoms; (4) Julle is ryk in die genadegawes van die Gees.

Deur Christus ook ‘n persoonlike rykdom

Dit is belangrik om te weet hoe ryk jy in die Here is. Dit begin in die gesamentlike rykdom van die kerk. Maar dit gaan nog verder. Want hoe kan jy jou kragte aanwend in die koninkryk? Wat is jou dryfkrag? Dan word die rykdom persoonlik. ‘n Kind van die Here weet dat hy persoonlik geroep en gered is deur Jesus Christus. Die geheim van ‘n christen: Jy is bevry deur Jesus Christus. Jy leef in Christus. Daarin lê jou persoonlike rykdom. Dit maak jou bly en ywerig vir die kerk.

Hierdie rykdom is die beginpunt

Die manier hoe die brief aan die Korinthiërs begin is besonders. In die vervolg van die brief word dit duidelik dat die kerk in Korinthe groot probleme gehad het. Paulus skryf skerp daaroor. Hy spreek hulle aan oor groepvorming in die gemeente. Oor sekere opvattings op die gebied van seksualiteit en verhoudings. Oor die manier waarop hulle kerkdienste ingerig is, waarop die gemeente nagmaal vier. En tog begin hy deur te dank. Die brief is nie ‘n treurlied nie. Hy begin deur te erken wat God gee. Deur vreugde te vind in die goeie. Die rykdom wat ons in Jesus Christus het, dit is die beginpunt.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com