Skip to content
Menu

LOFLIED OOR GOD SE VERLOSSING

1. Hartseer nood

Na koning Hiskia se wonderbaarlike genesing oordink hy die ingrypende dinge wat met hom gebeur het. Hy sit dit op skrif en sing daaroor (v. 9). Hy vergeet nie van die ernstige beproewing waardeur hy gegaan het nie, maar vertel dit oor (v. 10-14). Hy was vol van bekommernis oor die poorte van die doderyk waarvoor hy te staan gekom het.

2. Genadige verlossing

In sy bekommernis het Hiskia die HERE aangeroep vir verlossing. Hy bid baie besonders: “wees U my Borg”. Hy vra dat die HERE hom sal verlos uit die dood deur self vir hom in te staan. Dit is wat Christus vir ons gedoen het. Christus het die poorte van die doderyk oorwin sodat dit ons nooit sal oorweldig nie. Deur Christus het God “al my sondes agter sy rug gewerp” (v. 17).

3. Vreugdevolle dankbaarheid In reaksie op die HERE wat die lewe vir Hiskia skenk, wil hy die HERE loof saam met die lewendes. Die lewendes is sowel dié mense wat op die huidige stadium leef, maar ook dié mense wat reeds in Christus gesterf het en nou by God leef (vgl. Mar. 12). Ons loof God wat ons gebede uit sy genade verhoor.