Skip to content
Menu

Klik op die skakel om die regstreekse video uitsending te kan volg.

Lees: Romeine 8:18-30      Belydenis: NGB Artikel 13      Teks: Romeine 8:18      Sing: Ps. 46-1:1,4,6; Ps. 83-1:1,4; Ps. 107-1:1,10; Ps. 36-1:1,2,3.

‘Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.’

GOD VOORSIEN

Ek is oortuig. Nog sterker. Ek is heilig oortuig. Ons hoor die woorde van die apostel Paulus. Hy skryf dit vir die gemeente in Rome. Paulus se werk was om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Nou skryf hy vir die gemeente. Broeders en susters, ek is oortuig dat die lyding van nou nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat kom nie. Dit is werklik iets om na uit te sien. Moenie vaskyk teen die huidige nie. Kyk verder. Die mooiste moet nog kom. Die boodskap mag ons vandag hoor. In kort kan die boodskap van Paulus so saamgevat word – Kinders van God is daarvan oortuig dat die mooiste nog voorlê. Met vurige verlange wag ons saam met die skepping daarvoor. Nou sit ons in ‘n tyd van lyding. En hierdie lyding  van die huidige tyd  bring ons vanaand by die voorsienigheid van God.

Deur sy Seun Jesus Christus

As ons sien hoe God te werk gaan. Hoe Hy voorsien. Dan kom jy gou agter dat ons klein mense is wat deel vorm van ‘n baie groter geheel. Op baie dinge het ons geen invloed nie. En ook sien jy – die skepping is in nood. Dit is ‘n gegewe feit. Vir die nood van die skepping is daar net een antwoord. Dit is Jesus Christus. Paulus skryf:  Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, en so die vryheid te smaak wat die heerlikheid van God se kinders sal kenmerk. Dit sal gebeur as die kinders van God openlik bekend gemaak sal word. Die skepping wag vir die oomblik. Die oomblik van die verlossing. Die oomblik van die Verlosser – Jesus Christus.

Vir die wêreld in nood

Die aarde raak uitgeput. Dit is die mens se skuld. Deur sy sonde het hy die aarde ook daarin gedompel. En van die sondeval het die mens se sonde op die aarde net meer geword. In plaas van dat mense die Here se skepping oppas en bewaar, misbruik hy dit so gereeld. Die ganse skepping sug,  dit verkeer in geboortepyn. Dit wag vir verlossing.

Vir sy uitverkore kinders

Die skepping wag dat ‘die kinders van God openlik bekend gemaak sal word.’ Hierin laat God iets sien oor onsself. Waarom is ‘n kind van God belangrik vir die skepping in nood. Waarin is my geloof in Jesus Christus belangrik vir die wêreld? As kind van God is jy ‘n priester in die wêreld. Dit gee nogal groot verantwoordelikheid. Want as priester van die Here, kan jy nie wegkyk van die lyding nie.