Skip to content
Menu

Jesus se salwing met die Heilige Gees ‘n goddelike moet!

‘n Goddelike moet, want:

  • dit is wat God bepaal het

Johannes die Doper gaan Jesus ernstig teë wanneer Jesus vereis dat Johannes Hom ook moet doop. Jesus sê egter dat dit moet gebeur want “só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul”. Jesus wys met die woord “geregtigheid” op die nakoming van dit wat God bepaal het. Omdat God bepaal het dat Jesus gedoop moet word, moet Johannes Jesus se doop toelaat. Jesus se doop en die gebeure daar by die Jordaan was dus nie maar ‘n terloopse gebeure of ‘n nagedagte nie. Jesus het in gehoorsaamheid aan sy Vader van Galiléa, na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word (vgl. 3:13).

  • dit is die weg waarlangs God sondaars red

Maar hoe kan dit God se wil wees dat Jesus, wat sonder sonde is, die doop van Johannes ondergaan? Johannes se doop het immers alles te doen gehad met die belydenis van sonde en vergifnis van sonde (vgl. Luk. 3:3). Jesus was egter sonder enige sonde. Hoe kan dit gepas wees dat Hy met hierdie doop gedoop word?

Hier aan die begin van Jesus se bediening vereenselwig Hy Hom, deur Hom te laat doop, ten volle met sondaars – iets wat sal uitloop op die kruisiging waar Hy tussen die misdadigers soos ‘n misdadiger aan die kruis hang – ter wille van sondaars. Jesus neem dus hier by die Jordaan gehoorsaam aan sy Vader sy taak op as die “Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29). (vgl. ook die HK Antw. 31 “… deur God die Vader bestem en aangestel…”

  • dit is die weg waarlangs Jesus as Christus toegerus word

Daar by die doop vind drie magtige gebeure plaas: i) die hemel gaan oop, ii) die Gees daal soos ‘n duif op Jesus neer en  iii) daar kom ’n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. God maak Self onmiskenbaar duidelik dat hierdie eie natuurlike Seun van Hom (vgl. “Immanuel”  in 1:23 en ook 1:18) wat mens geword het, deur Hom gestuur is om sy verlossingsplan uit te voer. Hierdie Seun in Wie God Hom verheug (anders as Israel wat God bedroef het) word met die Heilige Gees gesalf en toegerus vir die taak waarvoor hy geroep is. Met die toerusting van die Heilige Gees sal Hy as “hoogste Profeet en Leraar”, as “enigste Hoëpriester” en as “enigste Koning”  (vgl. HK antw.37) sy roeping uitvoer. Jesus word direk na sy toerusting, deur die Gees gelei tot die konfrontasie met en oorwinning oor die duiwel (vgl. 4:1-11).

  • dit is die weg waarlangs sondaars as gesalfdes verander word.

Jesus wat met die Gees gesalf is, is ook die Een wat, soos die Doper gepreek het, met die Gees sal doop (vgl. 3:11). Nadat Jesus in volle gehoorsaamheid aan sy Vader en deur die toerusting van die Gees, sy verlossingswerk voltooi het, het “Hy die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort” (vgl. Hand. 2:33). Hy gee aan elkeen vir Wie die oorwinning behaal het, die Heilige Gees. Deur die werking van dieselfde Gees wat Jesus Christus toegerus het, begin hierdie toegeruste mense ook lewe as profete, konings en priesters (vgl. HK antw. 32)