Ten volle in God se diens!
Die slaaf in die gelykenis kry nie ‘n ruskans nie. Jy ook nie, gelowige!
Dit lyk so onregverdig: die slaaf moet ná ‘n dag se werk, nog steeds werk. Hy moet nog eers sy eienaar aan tafel bedien! As ‘n mens sou aanvaar dat dit openbaar dat God soos die eienaar van die slaaf optree, word die probleem nog groter. Met respek: God is tog nie ‘n veeleisende en onregverdige Iemand nie!
Ons moet egter onthou dat ‘n mens nie alle punte van ‘n gelykenis moet probeer toepas nie. Met ‘n gelykenis moet jy jou bepaal by die eintlike punt van vergelyking wat die gelykenis self uitwys. In hierdie gelykenis gaan dit duidelik oor die addisionele werk wat die slaaf moes doen nadat hy ‘n dag se werk voltooi het. Hy kry nie ‘n ruskans nie. Omdat dit ‘n slaaf is, is ‘n loon vir sy werk nie ter sprake nie en ook nie vergoeding vir sy addisionele werk nie. Hy behoort aan die eienaar en daarom moet hy werk as die eienaar dit vereis. Die werk-sonder-ruskans en werk-sonder-beloning is die punte in die gelykenis wat in die lewe van burgers van God se koninkryk toegepas moet word.
Werk sonder ruskans en werk sonder loon, slaaf van Christus.
Word burgers van God se koninkryk geen ruskans gegun nie? Die skole het immers nou vir die skoolvakansie gesluit – ‘n tyd waarin baie van ons ‘n ruskans neem. Die ruskans waarna die gelykenis wat Jesus vertel, verwys, is egter ‘n baie spesifieke ruskans. Soos die slaaf geen ruskans kry in sy diens aan sy eienaar nie, is daar ook geen ruskans vir ons as gelowiges in ons diens aan Hom wat ons besit nie. Elke liewe oomblik en in elke aspek van my lewe is ek en bly ek aan diens – ook as ek vakansie hou. Soos die slaaf werk ek ook beslis nie vir beloning nie. My onverpoosde diens is ten volle daarop gerig om my Eienaar te behaag.
Naas die ooreenkomste tussen die slaaf van die gelykenis en ons as gelowiges, is daar egter belangrike verskille wat ons nie moet vergeet nie: i) ek is nie gekoop nadat die Een wat my gekoop het, my geskiktheid positief bevind het nie; ii) ek is nie gekoop om uitgebuit te word nie en iii) ek is nie met geld gekoop nie. Die ander groot verskil tussen my en ‘n slaaf in mense se diens, is dat ek nie, nadat ek gekoop is, dieselfde gebly het nie. Die Gees maak my ‘n ander soort slaaf. i) Ek is dankbaar en het my Eienaar lief; ii) my onverpoosde diens gee sin aan my lewe en iii) deur my diens groei ek in my verhouding met my Eienaar.
Nooit, maar nooit ‘n ruskans nie, Gelowige.
Neem ons nie tog soms verlof in ons diens aan ons Eienaar nie?
Neem ek dalk verlof in my:
- denke omdat mense nie weet wat ek dink nie?
- verhouding met mense, veral hulle van wie ek nie hou nie of wat my kwaad aandoen?
- taalgebruik?
- getrouheid in my gebede, Skrifstudie en kerkgang?
- barmhartigheid aan en omgee vir ander – ook vir hom/haar wat in sonde volhard?