Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Skriflesing: 1 Petrus 1:1-25 Teksvers: 1 Petrus 1:1 Sing: Ps. 138:1, 4; Ps. 32:1, 3; Ps. 9:1, 7, 8; Sang: Ps. 36:2, 3; Ps. 33:5, 6, 11.
Insig in my Godgegewe identiteit is van wesentlike belang.
Petrus se lesers was mense wat intense lyding ondergaan het (vgl. 1:6 en 4:12). Hulle is deur die samelewing verwerp. Die mense in wie se midde hulle geleef en gewerk het, het hulle van allerlei dinge beskuldig en hulle kwaad aangedoen (vgl. 2:12). Wanneer Petrus hierdie verontregte lesers bemoedig, begin hy deur hulle eerstens op hulle ware identiteit te wys. As hulle weet wie hulle regtig is, sal hulle nie deur hulle omstandighede oorweldig word nie en sal hulle sinvol kan leef. In die eerste vers van Petrus se brief beklemtoon hy dat die lesers i) uitverkore ii) vreemdelinge ii) van die diaspora is.
“Uitverkorene”
Vir hierdie mense wat worstel om hulle omstandighede te verwerk, wat nie verstaan hoekom dinge met hulle gebeur nie en nie weet wat hulle te doen staan nie, herinner Petrus hulle aan hulle uitverkiesing. Hulle moes besef dat die verwerping en verontregting wat hulle beleef, nie bepaal wie hulle is nie. Wat God gedoen het, bepaal hulle identiteit. God het hulle, sonder dat hulle dit verdien, as sy eiendom uitverkies, as mense met hoop, mense met ‘n onbeskryflike heerlike erfenis (vgl. 1:3-5).
Gelowige, wie of wat bepaal in jou denke wat jou identiteit is? Staan die feit dat jy uitverkies is vir jou op die voorgrond? Is dit ten diepste hoe jy oor jouself dink?
“Vreemdeling”
Maar al het die lesers hierdie wonderlike sekerheid gehad dat hulle God se uitverkorenes is, het dit nie beteken dat hulle steeds in die samelewing verwerp is nie. Dit was juis omdat God hulle uitverkies het, dat hulle “vreemdelinge” in die samelewing geword het. Uitverkorenes leef toegewyd aan die Een wat hulle uitverkies het. Dit vind die ongelowiges vreemd (vgl. 4:4) – eintlik meer as vreemd. Christene is vir hulle arrogant en afstootlik! Daarom die verwerping. Die ongelowiges is egter self ook vreemdelinge alhoewel hulle dit nie besef nie. Hulle is vreemdelinge by God.
Is my vreemdelingskap hier op aarde sigbaar? Is ek bereid om deur getrouheid aan God in die samelewing vreemd voor te kom en verwerp te word? Verstaan ek dat hulle wat gelowiges vreemd vind, ook vreemdelinge is – vreemdelinge by God?
“Van die diaspora”
Derdens word die gelowiges in 1:1 beskryf as mense “van die diaspora”. Hoewel die mense aan wie Petrus skryf, hoofsaaklik nie-Jode was, word hulle in 1:1 beskryf met ‘n benaming wat gebruik was vir die Jode wat in diaspora weg van Jerusalem geleef het. Hierdie benaming beklemtoon die tydelike waaraan die lesers onderwerp is. Die gelowiges is, soos die Jode in diaspora, op pad. Nie na die aardse Jerusalem nie, maar na ‘n “onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis” wat vir hulle in die hemele bewaar word (vgl. 1:4) en na die dag wanneer Jesus Christus se heerlikheid openbaar gemaak sal word (vgl. 1:7 en 4:13). Dit beteken nie dat die uitverkorenes se gedrag hier op aarde onbelangrik is nie. Soos die Jode in verstrooiing in die vreemde aan God getrou moes bly (dink maar aan Daniël en sy vriende), moet die Christene ook nie swig onder die druk van die ongelowiges nie. Hulle moet God met hulle lewe verheerlik (vgl. 4:16) en hulle getrouheid aan God moet ‘n getuienis aan die ongelowiges wees (2:12).
Leef ek as iemand wat op reis is – op pad na my volle erfenis en na die openbaring van Jesus Christus? Is ek in hierdie tyd van diaspora getrou aan God?